Uit rolstoel gered: Nou werk gesin hard om Sy lig uit te dra
Nege jaar gelede was Robin van Rensburg in 'n rolstoel na 'n ernstige fratsongeluk. Deur genade is hy genees, en hy en sy gesin lei nou mense wat geestelik verdwaal het, terug na die Regte pad.
Terwyl baie mense die komende Paasnaweek (15 tot 18 April 2022) gaan gebruik om vir oulaas weg te breek of net lekker te ontspan voor die winter aanbreek, beteken dié tyd harde, toegewyde werk vir Robin van Rensburg en sy gesin van Vanderbijlpark.
Robin, sy vrou Clarissa en seun Neithan is bekend daarvoor dat hulle die onderneming, Gold Exchange, oorkant Vanderbijlpark se polisiestasie bedryf. Hier koop hulle juweliersware van egte goud en silwer op, sowel as enige ander waardevolle artikels wat mense nie meer wil hê nie. Die besigheid is egter net bysaak. Die gesin se hoofdoel is om vir die Here te werk en die naam van Jesus uit te dra.
“Ons gesin gaan doen elke jaar met Paasfees hospitaalbediening waar ons mense herinner dat Jesus hulle liefhet. Ons spreek genesing in Sy naam uit en verkondig die Evangelie. Ons voel dat dit die minste is wat ons kan doen vir Jesus vir alles wat Hy deurgegaan het vir ons, sodat ons vandag in oorwinning kan staan,” sê Robin.
“Nege jaar gelede het ek alles verloor en was in ‘n rolstoel na ‘n ernstige fratsongeluk, maar ek het God gedank dat ek lewe. Ek het Hom gedank vir klein mylpale soos dat ek weer self kon omdraai in die bed. Ek het God eerste gesoek in alles en met elke oomblik wat ek gehad het. Om genees te wees was nie my doel nie, maar eerder om God te ken en ‘n persoonlike verhouding met Hom te hê.
“Na ‘n jaar in daai rolstoel het ek met geloof opgestaan nadat daar geen gevoel was nie. Ek het my lewe aan God toegewy, nie om genees te word nie maar omdat ek hom persoonlik leer ken het. God het aan my uitgewys dat ek weer kan loop, want Hy is getrou en Sy liefde stel nooit teleur nie. Nou hardloop ek vir Jesus, nie omdat ek kan loop nie maar omdat Hy my liefhet. My dankbaarheid is nie net in lofprysing nie, maar my lewe getuig daarvan waar ek ander met die liefde van God bedien en die Evangelie verkondig.”
Die Van Rensburgs word gereeld opgemerk waar hulle op eie inisiatief lewensmiddele onder minderbevoorregtes van die Vaaldriehoek versprei. Hulle is egter nie voorstanders daarvan om bedelary aan te moedig en net aan te hou gee nie. “Dié wat werklik honger is, moet na Jesus toe kom. Hy is die brood van die lewe. As hulle Hom nie eerste soek nie, is hulle nie werklik honger nie en sal altyd honger wees,” sê Robin.


***********************************************************************************************


