Gewigtige Barbie laat skaal kreun
‘n Reusagtige pampoen genaamd Barbie wat deur ‘n inwoner van Meyerton gekweek is, het die skaal op ‘n allemintige 846kg laat kreun.
MEYERTON. – Wykus Lamprecht (33), ‘n elektro-meganikus van Meyerton, het met die pampoen wat agter in sy erf gekweek is, ‘n eerste plek in die kompetisie vir die swaarste pampoen by die Goliat van Gat-pampoenfees in Silverton, Pretoria behaal en ook ‘n nuwe rekord opgestel.
Dit is ook Wykus se persoonlike beste gewig vir ‘n pampoen en die tweede agtereenvolgende jaar wat hy die kompetisie wen.
Die jaarlikse pampoenfees wat op 19 Maart by die Boeremarkterrein in Silverton plaasgevind het, is ‘n instelling wat deur die Transvaalse Landbou Unie (TLU SA) begin is waar al die grootste, lelikste en mooiste pampoene gebring word om pryse te wen en pampoenboere jaarliks saamkuier.
Wykus se wenpampoen “Barbie” is selfs swaarder as sy wenpampoen “Johanna” (790kg) van verlede jaar waarmee hy ook die kompetisie gewen het. Sy (Johanna) het oor die 850 maaltye voorsien. Barbie is met die sade van Johanna gekweek.

Wykus het R15 000 se prysgeld met sy nuutste wenpampoen losgeslaan.
Om die pampoen te vervoer was ‘n storie op sy eie.
Wykus vertel hoe die pampoen baie versigtig en sorgvuldig en met baie moeite opgetel moes word, op ‘n sleepwa gelaai moes word en na die pampoenfees in Silverton vervoer moes word.

Die pampoenranke se punte is in emmers water gesit. Wykus vertel dat die idee was om die pampoen “vars” te hou op dieselfde manier wat jy blomme vars hou deur dit in water te sit.
Of dit werk is hy nie seker nie, maar dit was die moeite werd om te probeer.
Die pampoen is nou die eiendom van die borge van die Goliat van Gat-pampoenfees en sal opgesny word om minderbevoorregte mense te voed.
Wykus vertel dat Barbie se saadjie in Oktober verlede jaar geplant is en dat die pampoen sowat 160 dae geneem het om tot haar volle grootte te groei.

Wykus het Barbie die afgelope vyf maande met baie water, kalium, kalsium, magnesium en organiese voeding bederf.
Daar was ook die gevaar dat Barbie weens al die reën kon bars, maar sy het dit darem gemaak.
Dit is die sewende jaar dat Wykus aan pamoenfees-kompetisies deelneem.



