Local newsNewsNews

Die Vaal se eie tema-koek maestro

Hendrik Ebertsöhn is 'n gesinsman, koekbakker en jong besigheidsman met groot drome.

VANDERBIJLPARK. – Hendrik Ebertsöhn het kleintyd al koeke gebak en wou nog altyd sy eie bakkery gehad het. Sy ma het egter voet by stuk gehou en na skool het hy eers sy opleiding as elektromeganikus voltooi.

“Ek is bly ek het. Ek het my werk geniet,” gesels hy oor ‘n beker koffie. “Jy weet, om koek te bak en tegniese werk te doen is baie dieselfde. Vir albei moet jy met ‘n plan werk.”

Die onderstebo kandelaar koek het by die 20kg geweeg. Foto: verskaf

Sy heel eerste amptelike tema-koek was vir sy suster se troue in 2011. “Sy het ‘n Alice in Wonderland tema vir haar troue gehad,” onthou hy.

“Ek het vir haar ‘n groot koek en ‘n verskeidenheid kleiner koeke gebak.” Hy lag. “Jy wil nie weet wat alles daar fout gegaan het nie.”

Dit kon nie ‘n te groot krisis gewees het nie, want daarna het al hoe meer vriende en familie hom gevra om vir hulle tema-koeke te bak.

“Aan die begin kon ek net een koek ‘n week bak. Ek het skofte gewerk, so ek het die koekbakkery vir naweke gelos.”

Elke koek wat verkoop is se geld het hy gebruik om weer bestanddele te koop en sy toerusting aan te vul.

Elke koek is uniek en met baie kreatiwiteit ontwerp en gebak.

Hendrik het in sy kombuis begin bak en vandag het Blissful Baking al drie voltydse werknemers en daar word agter in die lugverkoelde houthuisie gebak.

Ook nie meer vir lank nie. Hendrik het onlangs die groot stap geneem om voltyds te begin bak. “Ek gaan die bakkery nou volstoom saam met my span hardloop en ons gaan groot gaan!”

Deel van die plan is om eersdaags na ‘n huis in Louis Trichardt-boulevard te skuif. “Ons gaan oop wees vir die publiek en naas ons bekende tema-koeke, gaan ons allerhande lekkernye verkoop,” vertel hy opgewonde.

Daar sal onder meer macaroons, ‘n Franse fyngebak, wees. “Dit het ons ses maande geneem om dié kuns te vervolmaak,” vertel hy.

Hendrik het geen formele opleiding as bakker nie, maar doen soos wat sy ma hom destyds geleer het, hy beproef alle dinge en behou die goeie.

“Ons werk maar so met trial en error,” lag hy. Sy grootste uitdaging tot dusver was ‘n troukoek in die vorm van ‘n ligkandelaar.

Die koek het oor die 20kg geweeg en moes onderstebo hang!

Sy gunstelingkoek is die driedimensionele lama koek wat hy spesiaal vir hul eersgebore dogtertjie, Violette, gebak het op wat haar eerste verjaardag sou wees.

Violette is met Trisomie 18 (‘n genetiese afwyking) gebore en is na ‘n moedige stryd, vier maande later oorlede.

“Ek het besef hoe belangrik is my familie. Hulle is my alles,” vertel Hendrik.

Hy en sy vrou, Claudette is vandag die trotse ouers van ‘n dogter (3) en ‘n seun (1).

Vir meer oor Blisful Baking en die interessante koeke wat hul al gebak het – daar is alles van ‘n hoender wat eiers lê tot by ‘n mannetjie wat gholf speel – gaan maak gerus ‘n draai op hul Facebookblad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button