Midvaal Raadsheer Rapport 47: ‘Is Midvaal besig om te vergaan?’
"Gaan Midvaal onder? Of miskien is Midvaal op dieselfde pad as Emfuleni? Kom ek waag ‘n opinie," - Raadsheer Pretorius

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius – DA-Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Midvaal werk hard. In werklikheid werk die personeel van my oogpunt af hulle byna dood. Maar dit lyk nie altyd so op die grond nie. By die “cold face” waar die tekkie die teer slaan en die drawwers die sypaadjie aandurf, voel dit soms of dit net nie werk nie. Nou wat gaan dan nou fout?
Is Midvaal besig om te vergaan? Gaan Midvaal onder of miskien is Midvaal op dieselfde pad as Emfuleni? Kom ek waag ‘n opinie. Dit is weliswaar ‘n subjektiewe opinie (objektiwiteit bestaan in elk geval nie), maar moontlik ‘n ingeligte opinie.
Kom ons deel die opinie op in drie dele: Die Verskonings, Die Redes en Die Filosofieë.
So die verskonings ken ons nou al goed maar is tog relevant en het wel ‘n invloed: vier maande se reën, groeiseisoen, nat teer kan nie herstel word nie, nat gras kan nie gesny word nie, agterstand sneeubal, ens. Daargelaat.
Die tweede opinie is Die Redes. Uit ondervinding kan ek getuig dat Midvaal elke jaar vanaf Januarie tot Maart druk ondervind met grassny en slaggate.
Addisionele kontrakwerkers word aangestel om in hierdie druk tyd die munisipaliteit by te staan met dienslewering en wanneer die planete belyn met reën, verkiesings, rioolvloede, tegniese sowel as meganiese probleme, maak dit die lewe vir klein entiteite soos Midvaal besonders moeilik.
Dit maak net nie sin om 40 trekkers aan te koop (wat dan ook beman moet word deur gereguleerde aanstellingsprosesse) wat slegs vier maande van die jaar sal besig wees met grassny nie.
Maar ‘n reuse verbetering is reeds sigbaar in vergelyking met ‘n aantal jare gelede toe geen addisionele kontrakteurs aangestel is nie en slegs twee sny siklusse per area beplan was. Vanjaar is die parke in Meyerton en omgewing al meer as nege keer gesny.
Die derde opinie: Die Filosofieë. Dit gaan vir my hier oor die verval van ons samelewing. Ons waardes en omgee het ‘n knou gekry en ons sien hoe dit kom sit in ons publieke leefareas en ook dienslewering affekteer. Vullis word gestort in parke, wat grassny weer bemoeilik.
Asblikke word stukkend geskop en ons publieke areas word sonder enige skaamte bemors.
Munisipaliteite kan nie meer bybly of die arbeid bekostig om dit skoon te hou nie. Dit raak ‘n onbegonne taak. Erwe word leeg gelaat en oorgroei.
Huise staan leeg en verval. Sypaadjies word nie meer deur inwoners gesny nie en hul eie honde ruk hul vullissakke aan flarde voor dit verwyder kan word. Motorenjins, karkasse en bome word uit die rioolstelsel gehaal.
‘n Nuwe gier is dat verkeerstekens en straatligte as na-uurse tydverdryf afgery word met voertuie en kabels gesteel word. Straatligte se drade word uit die pale geruk.
Die tweedehandse mark vir metaal en koper het ook hierdie probleem vererger. Dit is dus nie net meer die gloeilamp wat vervang moet word nie, maar nou ook die bedrading, ondergrondse kabels en die pale wat die kostes, aankope en installasie opjaag.
Parke word geplunder en bome word vir geen rede gebreek. Straatname word gebuig en straatligpale geskop totdat die ligte blaas. Vensters word stukkend gegooi, wilde diere in parke doodgeslaan en alles wat kan brand word gebrand.
Ons weet dit alles reeds.
Ons sien dit en ons besef dit. Ons poog met GPFs en kameras en projekte en lemmetjiesdraad om dit te stuit. In die laaste ses jaar alleen het Midvaal al meer as R13 miljoen aan buurtwagte en gemeenskapspolisieforums geskenk om die verval te help bekamp.
Dit word egter die swaarste gevoel daar waar die munisipaliteit nou alternatiewe planne moet maak om die ligte aan te hou en water in die krane te laat vloei.
Probleme wat munisipaliteite nooit vantevore gehad het nie, is besig om uitdagings te stel wat dienslewering moeiliker maak as ooit tevore. Hierdie is probleme wat ‘n munisipaliteit nie kan oplos nie. Dit is samelewingsprobleme met groter ideologiese fondasies.
Ons bly egter dankbaar vir toegewyde, morele en opregte leierskap soos die van die DA in Midvaal wat hulle uiterste bes doen om die Midvaal droom lewendig te hou.
Trotse Midvaal Groete, Ph!l.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

******************************************************************************************


