Oud-Bijler vang pofadder in motorhuis
Pofadder is veilig en vry. Henk is steeds kalm, maar van sy bakkiesblad vriende (die joernalis ingesluit) ly nog aan skok.
PHILIPSTOWN. – Dit kon ‘n aardige ding afgegee het. ‘n Mens verwag ‘n slang in die gras, maar in jou motorhuis? Henk Joubert, oud-inwoner van Vanderbijlpark, was Maandag, 4 April 2022 doenig in die motorhuis by sy halfweghuis in Philipstown in die Bo-Karoo.

Hy het na die hoek van die motorhuis gestap na waar ‘n boks op houtblokke gestaan het. Henk het rustig die boks begin uitpak op soek na gereedskap. Dit was eers toe hy die boks wou terugskuif wat hy die pofadder gewaar het. Die slang het nog die heeltyd doodstil half onder die boks gelê. Gelukkig het Henk kalm gebly, alhoewel van sy vriende op bakkiesblad gevoel het, hy vertel die storie darem bietjie te rustig. In sy eie woorde: “Eers toe ek die boks terug wou skuif, gewaar ek die dame, half onder die boks in. Sy het erg geblaas. “Ek het haar met ‘n leë verfemmer gevang en by ‘n naby geleë berg gaan vrylaat. Sy is duidelik dragtig en kan nou haar 20 tot 50 kleintjies in die wêreld bring: in vrede, in die natuur.”

Na kommentaar van sy vriende oor hy so koel en kalm was, het Henk gesê:” Mens moet hulle (slange) maar met omsigtigheid en respek benader. Ek het dit weer vandag gesien. Hulle is soos blits. “In die emmer het sy onmiddellik omgepluk met haar kop na bo, gereed om te pik. Mens moet nooit mak raak nie. Selfs al sou mens hulle gereeld hanteer.” Op my navraag oor die gevaarlike speletjie op ‘n Maandag het Henk tong-in-die-kies laat weet: “Ja-nee. Wat sal ons die speletjie noem? Pofadder Roulette. Verseker nie te gereeld nie.” Luister hoe blaas so ‘n slang as sy gesteur word: https://www.facebook.com/henk.joubert.31/videos/1008867019717662/
