Local newsNewsNews

Albertus Kriel – die man agter die kamera

Maak nader kennis met Albertus Kriel - ingenieur, fotograaf en verkose President van die Rotary Klub van Riverside.

VANDERBIJLPARK. – Albertus Kriel. Vir die Rotary Klub van Riverside is hy hul volgende president en hul fotograaf.

Sy foto’s verskyn gereeld in Vaalweekblad se fotoblad. “Fotografie is my stokperdjie. Ek het jare gelede ‘n videokameratjie gehad. Man, toe breek hulle mos in en steel die ding. Wel, toe koop ek vir my ‘n kamera met die versekeringsgeld en gaan doen ‘n kursus.”

Met goeie gevolge. Vandag is hy ‘n gesogte fotograaf in die Vaal.

Albertus Kriel.

Hy het ook al sy lyf akteur gehou in die kortfilm, Fulfilled Promises. “Ek was die duiwel,” vertel hy. “Dit was nie beplan nie. Die een dag was ek nog daar om almal te organiseer en die volgende oomblik sê die dominee gaan kry vir jou ‘n pak klere en meld aan.”

Albertus het sy eerste jare in Sasolburg deurgebring. Hy was vyf toe sy pa Secunda toe verplaas is en dis ook waar hy gematrikuleer het.

Na skool het hy meganiese ingenieurswese aan die eertydse Vaaldriehoek Technikon studeer.

Daarna het hy hom in Vereeniging gaan vestig waar hy deur die loop van jare by verskeie ingenieursfirmas gewerk het.

Sy twee dogters is sy trots en hy gaan kuier gereeld vir hulle in die Wes-Kaap. “Bianca werk in HR. My jongste, Amy is ‘n sjef,” en pa se bors swel so bietjie meer.

Albertus is bekend vir sy sin vir humor en die moeite wat hy doen om altyd die skugteres uit hul dop te laat kruip.

 

‘n Mense mens by uitstek, maar ook iemand wat gelukkig op sy eie is. ‘n Man wat nie onderskat moet word nie.

“Ek het ‘n vriendin wat my ‘Ou Krokodil’ noem. Ek sal verskonings en nonsens ook net tot op ‘n punt vat en dan byt ek,” flits sy oë skielik ernstig.

Albertus en sy lewensmaat, Lanie Botha.

Hy glo daaraan om iets klaar te maak as hy dit begin het. Die deursettingsvermoë het hom goed te pas gekom in sy fietsry dae.

“Dit het in ‘n gym begin. Ek was rustig besig om ‘n oefenfiets te trap toe ‘n biokinetikus verbykom. Sy het gereken ek trap heeltemal te gemaklik en stel toe die fiets se weerstand. Wel, toe ek op die maksimum weerstand steeds te gemaklik na haar sin trap, toe sê sy ek het sterk bene, ek moet regte fiets gaan ry,” onthou hy.

Dis presies wat hy gedoen het. Hy het alles gery, van die 94.7 tot by die Cape Town Cycle Race en Double Centuries (meer as 200 km) in Swellendam. Hy en sy vriende het ook ‘n 24 uur bergfietswedren aangedurf.

“Daar was ‘n tyd wat ek tot 300 km per naweek afgelê het. Nie dat ek dit nou meer sal doen nie. Ek dink ek slaan dood neer,” lag hy lekker.

Nou se dae hou die Rotariërs en sy werk hom besig. Wanneer hy wel die slag kans kry om te ontspan, geniet hy ‘n goeie fliek.

“Ek is nie bang vir ‘n chick fliek nie,” erken hy met ‘n glimlag. Vakansies staan sy kop Noordkus toe en natuurlik maak hy gereeld ‘n plan om vir sy dogters in die Strand te gaan kuier.

Besige man, dié Mnr. Kriel, soos sy kinders hom speels noem. Talentvol ook.

Hy glimlag maklik, maar sy oë spieël ‘n dieper erns en deernis, want hy het in sy lewe al die skerper hoeke van die lewe ervaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button