Die impak het die 4×4 laat rol
VANDERBIJLPARK. - Twee inwoners van die dorp het gisteraand net-net die dood vrygespring toe hulle in 'n ernstige ongeluk op die Potch-pad betrokke was.
Daar word vermoed dat die bestuurder van die voertuig wat in hulle vasgery het, onder die invloed van drank bestuur het. Dit kon egter nie bevestig word nie.
Met die impak waarmee die voertuig hul 4×4 bakkie getref het, het dit daartoe gelei dat die bestuurder van die bakkie ook beheer verloor het en die 4×4 gerol het.
ER24 personeel wat die beseerdes op die toneel behandel het, het gesê dat dit ‘n wonderwerk is dat die bestuurder van die 4×4, en sy passasier die ongeluk oorleef het. Die bestuurder (‘n man in sy dertigs) het egter heelwat beserings opgedoen en glasstukke moes uit sy kop verwyder word.
Die bestuurder van die 4×4 het reeds die saak by die SAPD aangemeld.




