Local newsNewsNews

Een treetjie nader aan haar droom!

’n Talentvolle tienermeisie van Meyerton droom van ‘n loopbaan in die glanswêreld en is op pad na die VSA om haar droom te verwesenlik!

MEYERTON. – Singhita Pretorius (14), ‘n graad agt-leerling aan die Leeuwenhof Akademie, is een van ‘n handjievol talentvolle jongmense van Afrika wat gekies is om aan die International Modeling and Talent Association (IMTA) se internasionale byeenkoms deel te neem.

 

Die byeenkoms en talentkompetisie vind tussen 15 en 21 Julie in New York – die sogenaamde ‘Big Apple’  plaas.

Singhita hoop om daar beoordelaars te beïndruk met haar modelwerk, toneelspel en sangtalent en ook internasionale blootstelling te kry.

Die International Modeling and Talent Association (IMTA) is ‘n professionele organisasie wat in 1987 gestig is, met opleidingsentrums regoor die wêreld, waar jongmense opgelei word vir ‘n loopbaan op die loopplank of op die silwerskerm.

Die organisasie hou twee keer per jaar talent- en modelkonvensies in New York en Los Angeles wat deur talentverkenners (“talent scouts”) en rolverdelings-direkteure (“casting directors”) gebruik word om vars nuwe talent te vind wat hulle onmiddellik in films, advertensies en televisiereekse kan gebruik.

Volgens die IMTA se amptelike webwerf het hulle in die meer as 35 jaar wat hulle bestaan baie aspirant-modelle, akteurs en ander gehelp om ontdek te word.

Die loopbane van bekendes soos Ashton Kutcher (van That 70’s Show-faam), Ashley Greene (van Twilight-faam), Elijah Wood (Frodo in Lord of the Rings), Katie Holmes (van Dawson’s Creek-faam), Jessica Biel (van The Texas Chainsaw Massacre, 2003) en Eva Longoria (van Desperate Housewives) het met behulp van die IMTA afgeskop.

Singhita Pretorius (14) van Meyerton. Foto: Verskaf

Singhita – haar naam beteken “wonderwerk” in die Shangaan-taal (Tsonga) – ry al sedert vyfjarige ouderdom perd en is ook ‘n ruiter van formaat.

Sy kan ongelukkig nie haar geliefde perd, Ace Pilot, saam met haar vat nie, maar haar ma, Marieta Pretorius (46) en Ouma Ristine Botha (73) kan wel vir Singhita op die besoek aan die IMTA se byeenkoms in New York vergesel as waarnemers.

Singhita doen al vir ‘n paar jaar lank toneelspel maar het eers onlangs begin sing.

Om haar vir die IMTA se byeenkoms voor te berei het sy met sanglesse begin.

Singhita vertel dat sy danksy die IMTA werkswinkels wat sy reeds bygewoon het baie geleer het oor modelwerk, grimering, fotografie en ander aspekte van die bedryf.

Singhita Pretorius op die sangverhoog. Foto: Verskaf

Sy sal tydens haar besoek aan New York ook werkswinkels bywoon om haar touwys te maak vir ’n toekomstige loopbaan op die loopplank of silwerskerm en daar sal ook ’n fotosessie by die bekende Times Square wees waarna sy vreeslik uitsien.

Volgens Singhita sal paar dae wat die byeenkoms duur baie besig en intensief wees.

Dit is waarom sy, haar ma en ouma besluit het om vir ’n paar dae na die byeenkoms in New York agter te bly om die stad te verken.

Besoeke aan New York se bekende vryheidstandbeeld (Statue of Liberty), St. Paul se kapel (’n kerkie naby die Wêreldhandelsorganisasie wat staande gebly het na die 9/11 aanval) en die High Line (’n verhoogde langwerpige park wat op ’n ou spoorwegroete gebou is) is hoog op Singhita en haar ma se lys van dinge om in die wêreldstad te doen.

Singhita is in gesprek met haar skool om te kyk na maniere hoe sy op hoogte van haar skoolwerk sal bly tydens die besoek aan New York.

Daar is ook die moontlikheid dat sy haar eksamens vroeër sal moet skryf voordat sy na die VSA vertrek.

* Singhita se familie moet self haar reiskostes dek. Mense wat kan uithelp kan vir Singhita se ma, Marieta, ‘n e-pos stuur na marieta@exodecgroup.co.za

Singhita Pretorius en haar perd Ace pilot. Foto: Verskaf

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button