Geen keer aan Vaalpark se De Beer-sussies
VAALPARK. - As jy een kind het wat bo-gemiddeld in enige sport, kunsvorm of akademies presteer, het jy rede om trots te wees. Die De Beer-huishouding spog egter met twee talentvolle sussies wat hul ouers lekker besig hou met al hul prestasies.
Ousus Ansumé (14) is pas vir die derde agtereenvolgende jaar as die ASA paalspringkampioen aangewys.
Kleinsus Caprivi (12) is op haar beurt die huidige Vrystaat-hoogspringkampioen in haar ouderdomsgroep en het ook die Vrystaatspan in Maart by die SASA Kampioenskappe in Potchefstroom in die hoogspring en twee hekkies-items verteenwoordig.
Maar kom ons begin heel voor.
Ansumé was vir ses jaar ‘n belowende gimnas by Emfuleni Gimnastiek in Vanderbijlpark en het tot en met vlak 7 gevorder. Sy moes egter ‘n keuse maak tussen gimnastiek en atletiek.

“Sy sou beslis nie vandag gewees het waar sy nou is as dit nie vir haar gimnastiek agtergrond was nie. Gimnastiek is die bousteen vir alle sport,” sê ma Angelique.
Ansumé wou nog altyd ‘n paalspringer gewees het. Die eerste dag toe sy aan ‘n paal vat, toe spring sy 2.50m (die kwalifiserende SA hoogte vir dogters o/16).
Haar eerste afrigter was “coach” Hennie Els van die Sasolburg Paalspring Akademie. Sy het ook ‘n mentor vanuit Amerika, Michael Jennetta wat haar aanlyn ondersteun.
Verlede jaar was daar geen skole atletiek nie en Ansume kon slegs aan die ASA Klub-atletiekbyeenkomste deelneem.
Die jaar het haar goed behandel met ongelooflike hoogtes en rekords van 3,30, 3,50 en sy het uiteindelik haar seisoen afgesluit met ‘n 3.60m. Sy was ook die wenner by Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Kaapstad in April 2021 met ‘n hoogte van 3.20m.

“Haar lewe het handomkeer verander toe Endurocad en Atheletic Foundation Trust haar in Oktober verlede jaar gekontak het om vir haar ‘n volle paalspringbeurs aan te bied in Stellenbosch,” vertel ma Angelique.
Natuurlik het Ansumé dit met ope arms aanvaar. Sy het haar koebaais gesê en in Januarie op die ouderdom van 14 jaar haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Stellenbosch begin.
Haar nuwe “coach” is JP van As wat ook die afrigter van Mire Reinstorf is. Mire hou tans die Junior Wêreldrekord met ‘n hoogte van 4.15m vir vroue o/20.
“Ansumé is ongelooflik geseënd en Endurocad behandel haar soos goud. Adidas en Versus Socks is hulle borg en hulle word omtrent bederf,” vertel Angelique.
“Ansumé het sowat ses weke gelede gesukkel met ‘n ou liesbesering. Endurocad het onmiddellik ingespring en daaglikse behandeling gereël.”
Sy het ongelukkig twee byeenkomste uitgesit, maar daarna was sy nog sterker as tevore.

Sy was die Wes-Kaap wenner en was gereed vir die SA Kampioenskappe in Germiston. Op 17 Maart het sy die nuwe SA rekordwenner geword met ‘n hoogte van 3.50m.
Wat baie spesiaal is, is dat die 2de en 3de plek wenners by die SA’s baie goeie vriendinne van Ansumé is, wat ook van die Wes-Kaap af kom.
By die ASA Suid-Afrikaanse Kampioenskappe wat op 1 April in Potchefstroom gehou is, was Ansumé weer onstuitbaar. Sy het vir die derde keer in ‘n ry by dié kampioenskap koning gekraai.
“My droom is om eendag by die Olimpiese Spele te wen. Ek weet dit gaan baie harde werk kos,” sê Ansumé.
Sy wil ook na skool in Amerika gaan studeer en te danke aan Michael Jennetta, is daar reeds ‘n toekoms vir haar in die VSA.
Kleinsus Caprivi het beslis ‘n ousus om na op te kyk. Sy is ‘n trots Vaalpark Primêr-leerling.Sy word in die hoogspring afgerig deur Natasha Stols.

Vir haar baanitems (hekkies en naellope) word sy afgerig deur Woulan en Amishka Hatting van Hattingh Atletiek Akademie.
Haar harde werk het gesorg dat sy by die Vrystaat Kampioenskappe die gesamentlike wenner was in die hoogspring vir d.o/12 met ‘n hoogte van 1.39m. Sy het ‘n silwermedalje verwerf in die 75m-hekkies en ‘n bronsmedalje in die 150m-hekkies.
Danksy dié prestasies is sy by die Vrystaatspan ingesluit wat in Maart aan die SASA Kampioenskappe in Potchefstroom deelgeneem het.
Caprivi is ook ‘n uitblinker gimnas, netbalspeler, hokkiespeler en landloper.
“Sy is ‘n toegewyde jong sportpresteerder en geniet elke sekonde daarvan,” sê ma Angelique.
Caprivi word ook gementor deur Michael Jennetta van Amerika. Hy help haar gereeld aanlyn met oefen- en streksessies en hulle het selfs ‘n paar oefensessies deurgewerk toe hy onlangs in Suid-Afrika was. “Hy is ‘n ongelooflike inspirasie vir my dogters en loop oor van kennis,” sluit ‘n dankbare ma Angelique af.
* Michael Jennetta (67) is ‘n VSA Meesters-atleet wat nog steeds aan die 10- kamp deelneem.

