Local newsNewsNews

Kospotte sing vir goeie doel by Riviera on Vaal

Die kospotte het Vrydagmiddag, 1 April by Riviera on Vaal-buiteklub gesing tydens se CCM Prokureurs se jaarlikse potjiekoskompetisie.

VEREENIGING. – Die kompetisie word jaarliks gehou en die kos wat oorbly word aan behoeftige mense in die gemeenskap geskenk.

Sowat 12 eiendomsagentskappe het aan vanjaar se kompetisie deelgeneem en daar is lekker saam gekuier terwyl die potjies geprut het.

Dit sluit Rawson Eiendomme (Sasolburg en Vanderbijlpark), Makena Eiendomme, Century21 Eiendomme (Meyerton en Vanderbijlpark), Reatshepa Eiendomme, Platinum Eiendomme, Homes4U, SA Homeloans, Cas Aucamp Eiendomme, CMM Prokureurs (die gasheer-organisasie) en Van Heerden De Wet Prokureurs in.

Die kos wat oorgebly het is aan Kinderwelsyn in Meyerton geskenk en is gebruik om behoeftige kinders in die gemeenskap te voed.

David Wright van Erica Eiendomme met ‘n maalvleis en pasta-potjie aan die linkerkant en ‘n beesskenkel/lamskneukel-potjie aan die regterkant. Foto: Christiaan Cloete

Die paneel beoordelaars bestaande uit MooiVaal Media se Karin Visagie, die Goue Driehoek Sakekamer se Rita Benecke en Alice de Jager en 90.6 FM Stereo se Melanie Antunes, het ‘n moeilike tyd gehad om te besluit tussen al die lekker potjiekos wat aan hulle opgedis is.

Aan die einde van die dag kon daar net een wenner wees.

Cas Aucamp Eiendomme het met hul heerlike lamspotjie wat deur Bernice Els en haar span voorberei is en by ‘n eettafel met ‘n boeresjiek-tema bedien is, loshande die eerste plek behaal.

Hulle het ook die prys gewen vir die meeste moeite wat gedoen is.

Die eg Suid-Afrikaanse potjie wat deur die span van Reathepa Eiendomme voorberei is. Foto: Christiaan Cloete

Reathepa Eiendomme het met hul eg Suid-Afrikaanse potjie ook die beoordelaars beïndruk en die prys vir uniekheid losgeslaan.

Rawson Eiendomme het die prys vir beste gees gewen, terwyl Homes 4 U met ‘n prys weggestap het vir beste tema (hulle het daaraan gedink om gasbranders onder die potjies te sit sodat die kos warm bly tot die beoordelaars daar kom).

Rawson Eiendomme het die geesbeker gewen. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Jean Morton, ‘n mede-direkteur van CMM Prokureurs (Vanderbijlpark en Drie Riviere) is dit die sewende jaar wat die kompetisie aangebied word.

Dit kon in 2020 en 2021 ongelukkig nie plaasvind weens die Covid-19 pandemie en inperkingsmaatreëls wat in daardie stadium gegeld het.

Buiten die oorskiet potjiekos, kon deelnemers ook blikkieskos aan Kinderwelsyn Meyerton skenk.

Volgens Marda van den Bergh, wat die kos namens Kinderwelsyn Meyerton in ontvangs geneem het, is die organisasie baie dankbaar vir die skenking.

Sy sê die oorskiet potjiekos is tydens ‘n pleegsorg-ouer bekendstellingsdag aan die pleegsorgouers oorhandig.

Een van die spanne wat aan die potjiekoskompetisie deelgeneem het, met hul potjie. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button