Norman vang 3de plek by SAVOF Spele
Die katrolle het gesing, die stokke het boog gestaan by die 10de SAVOF oewerspele. Welgedaan aan ons eie Norman Steyn.
VANDERBIJLPARK. – Die katrolle het oor die naweek van 26 en 27 Maart weer langs die Vaaldam gesing vir die 10de Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF) Hengelfees, ook bekend as die 2022 SAVOF Spele.

Die spanne vir gestremdes het by Leeuplaas penne ingekap. Jeanette Steyn-Nortje, spanbestuurder van die Noord-Oos Mpumalanga (NOM) gestremde span, het gesê sy het kilometers langs die dam afgelê om ‘n oog oor al haar spanlede te hou.
Elke dag is in geheel as ‘n kompetisie beskou en pryse is vir Dag 1 en 2 uitgedeel.

Vir die NOM span het Norman Steyn van Vanderbijlpark besonder goed gevaar. Hy het albei dae sy sones gewen.
Die Saterdag het sy vissak net onder die 4kg geweeg en het hy ‘n algehele vierde plek behaal, wat bygedra het tot sy span se algehele tweede plek.
Bes Botha van die NOM span het op die eerste dag die swaarste sak vis ingeweeg.
Sondag, 27 Maart het Norman ‘n algehele derde plek behaal en die NOM span ‘n vierde plek.
Norman het op die tweede dag 24 visse gevang wat saam net oor die 11 kg geweeg het.
Volgens Jeanette kom die NOM gestremde span se lede van so ver as Lydenburg en Middelburg, maar hulle geniet dit altyd om saam te vang.
“Ons het die naweek in ‘n gastehuis in Oranjeville gebly en dit baie geniet.”
Almal maak nou gereed vir die SA’s wat in Oktober by die Bloemhofdam beslis gaan word.

