Local newsNewsNews

Ek sê maar net …

Rubriek. - Wanneer jy moet erken jou pa was 'n beter pannekoekbakker as jy ...

Daal daar die naweek regte pannekoek en sop weer op ons neer. Besluit ek om Saterdagmiddag pannekoek te bak.

Het ‘n resep wat ek en Pa jare der jare gelede uit ‘n tydskrif gekry het wat ek al baie ingespan het met groot sukses.

Bygesê, vandat ek amper sewe jaar gelede die groot trek terug Vanderbijlpark toe aangedurf het, het ek nog nie weer alleen pannekoek gebak nie.

Pa was die bakker in die huis. Nou is hy nie meer daar nie. Allegeval, so kry ek Saterdagmiddag die bevlieging en grawe my ou resepteboek uit.

Het vele ander, maar dié een is spesiaal. Die eerste resepte is in my Ouma Bessie se handskrif met die bestanddele nog in onse en ponde.

Op ‘n kol het ek ‘n paar resepte bygeskryf, onder andere die pannekoek resep wat ek amptelik onder die titel van, Pa Nico se Pannekoek ingevul het.

Dis op die bladsy, vol olie en meel-spatsels van baie jare, waarop ek Saterdag oopmaak en begin met operasie pannekoek.

Kyk, my pa het my geleer hoe om te braai, potjiekos te maak en pannekoek te bak. Met die jare wat ek uit die huis was, het ek getrou dit gedoen soos hy my geleer het.

Pa het intussen van sy eie goed bietjie aangepas tot my skok en verbasing toe ek weer my intrek neem.

Alles is gereed … Foto: Gerda Bruinette

Dit het natuurlik tot vele woordewisselings gelei oor wat nou die beste sou wees. Vir elke keer wat ek, “maar my pa het my anders geleer”, gesê het, het hy vir my daardie beroemde Bruinette-kyk oor sy bril gegee.

Soos dit maar soms met die meester en sy leerjonge gaan, kom daar ‘n tyd wat die leerling dink sy is slimmer as die leermeester.

Ek het myself tot beter potjiekosmaker, braaier en pannekoekbakker verklaar. Pa het net gelag.

Ja wel… Saterdag het ek die beslag sonder veel drama aanmekaar geklits. Die gasbottel was op sy plek, die bak met kaneelsuiker gereed, die pan geskrop met sout. (Net vir outydse blinkpanne, moet tog nie met ‘n nuwerwetse pan probeer nie).

Steek die gasplaat aan. Bietjie olie in die pan. Eerste beslag in die pan.

Net daar loop dinge skeef. Die beslag gaan klou summier aan die pan vas. ‘n Poging tot omdraai laat my met ‘n pan vol deegkrummels. Krummels!!

Ek weier om paniekerig te raak. Veeg die pan skoon en probeer weer. Weer eindig ek met krummels.

Ek raak paniekerig. Bestanddele kos geld en ek het my ma pannekoek belowe.

Ek stuur ‘n noodboodskap vir my voedseldiensbestuurder, nig Bessie, wat sy nie dadelik lees nie.

Ek raadpleeg Oom Google. Dié verstaan soos gewoonlik weer niks en gee vir my net moontlike oplossings vir Amerikaanse pancake flops.

Wat geheel nie gaan werk nie, want die Amerikaners dink mos ‘n plaatkoekie ala crumpet is ‘n pannekoek.

Eindelaas daal die besef tot my neer. My pa!

Dis toe dat ek sommer so in die lug in sê: “Okay Pa. Ek is jammer. Ek was verkeerd. Pa is die beter pannekoekbakker.”

Daarna draai ek daai gasbottel ‘n bietjie groter oop, wag totdat die pan behoorlik warm is, en voila… pannekoeke lyk tog te mooi.

Terwyl ‘n pannekoek in die warm pan gesels, hoor ek my pa lag.

Ek wou saamlag, maar toe loop die trane, want pannekoek bak sonder pa is net nie dieselfde nie. Ek dog ek sê maar net.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button