Hoofsweep Rapport 49: Vullisverwydering is ‘n aktuele saak in Midvaal!
Midvaal Munisipaliteit se flinkdinkers het reeds ‘n plan D, E en F in werking!

Deur Raadsheer Phil C Pretorius – DA Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Vullisverwydering is op almal se lippe… figuurlik gesproke. Dalk is dit so ʼn aktuele saak in Midvaal omrede dit die eerste keer in 21 jaar is dat Midvaal se Plan A, B en C in die wiele gery word en ʼn Plan D vinnig op die tafel geplaas moet word. Kom ek stel vinnig ons inwoners gerus: Plan D, E en F is al reeds in werking.
ʼn Koeldrankblikkie wat op sy sy lê gooi ʼn reghoek skaduwee teen die een muur en ʼn sirkel skaduwee teen die ander muur. Dit is dieselfde voorwerp gesien uit verskillende hoeke. So sien ons talle aangeleenthede in die lewe uit verskillende hoeke en as ons weet dat ons nie altyd die regte of die ENIGSTE weergawe van die saak raaksien nie help dit ons nogal om bietjie versigtiger te oordeel en met ons kommentaar om te gaan.
In Midvaal is daar drie operasionele vullisverwyderingstrokke wat die 15 wyke in vyf dae moet bedien. Om hierdie grootste munisipaliteit in Gauteng (1 722km2), met die kleinste populasie (111,6k) en dus kleinste begroting en personeelkorps te bedien, verg formidabele bestuur. ʼn Nuwe trok kos in die omgewing van R1,7 mil. Voeg by die onderhoudskostes vir bande, brandstof, personeel en onderdele en die kostes klim noemenswaardig. In die verlede is Midvaal se trokke opgeknap en selfs tweedehandse trokke is aangekoop om kostes te bespaar. Kontrakte met diensverskaffers is ondersoek om die haalbaarheid daarvan te bepaal vir ononderbroke voorsiening en onderhoudsdoeleindes. Die antwoord is moontlik dat daar geen plaasvervanger is vir jou eie eiendom en eie mikrobestuur daarvan nie. Mikrobestuur veronderstel weer ander proseduriële en toesighouprobleme. Maar ʼn ketting is slegs so sterk soos sy swakste skakel en daar is altyd ʼn swakker skakel in die reeks, vra maar vir Boeing, NASA en Elon Musk se Space X. Midvaal het egter in die Januatie 2022 hersiene begroting onder Burgemeester Peter Teixeira, fondse geskuif en drie nuwe trokke ten bedrae van R5 mil. bestel wat voor Julie 2022 afgelewer sal word om hierdie basiese diens volhoubaar aan die gemeenskap te verskaf.
Wanneer jy met die publiek werk is die veranderlikes egter legio. Ek ry onlangs by ʼn plaashek verby op die Heidelbergpad (R551) en sien hoe ʼn dame ʼn bakkievrag swart sakke aflaai teen die hoofpad. Die laaste paar sakke is stukkend en sy skraap die inhoud van die bakkie af op die grond langs die sakke. Op my latere terugkeer het die inhoud die wêreld vol gewaai en die omgewing lyk betreklik onaangenaam. In uitbreiding 4 sit sekere inwoners hulle sakke op die sypaaidjie oorkant hulle huis neer waar hulle eie loslopende honde geduldig wag om dit te verskeur terwyl die eienaar nog oppad terug is huis toe. Wanneer die munisipaliteit nou nie die resultate van die partytjie met besem en mop opruim nie word die onbevoegdheid van Midvaal wyd en suid verkondig.
Maar hoekom verwyder Midvaal nie my blok se vullis elke week tussen 09:00 en 10:00 klokslag nie, dan is die probleem mos opgelos? Dit sal ideaal wees. Ronde skaduwee – reghoekige skaduwee! Sommige inwoners verlaat hulle wonings al 05:00vm en kom na 19:00nm terug. So sakke word uitgesit 05:00 en dit is dit. As die trok die hele nag gery het en onklaar geraak het en die nuwe skof se personeel 06:00 opdaag vir werk maar daar is twee af siek, een beseer en drie wat die werk van sewe moet oorneem voordat hulle die Plan B trokke kan aktiveer om op die pad te kom, in die reën, met modder en honde-aanvalle en 14 geskeurde sakke wat opgeruim moet word by huis X waar daar volgens die bywette maksimum ses mag wees, begin ek die groter prentjie sien. Maar ek gee nie regtig om wat die redes of die verskonings of die probleme is nie – ek betaal my erfbelasting en julle sal dit maak werk! Ek stem. As inwoners wil ons nie bemoei word met die probleme en redes vir diensleweringsuitdagings nie. Doen dit net.
Die feit is egter dat daar ook mense agter die skerms werk en as ons in ag neem dat 21 jaar se sukses nou in ʼn agterstand van vullisverwydering in sekere dele uitgekryt word as ʼn ineenstorting van die munisipaliteit is dit dalk effens dramaties. Die ander kant van die muntstuk is dat ons wel ʼn hoër belastingpersentasie hef as ander munisipaliteite maar dat dit wys in die diens wat jy ontvang. Midvaal kan baie maklik talle nuwe trokke, personeel, wheelie-bins en gratis sakke vir elke inwoner goedkeur, mits die erfbelasting elke maand verhoog. Die feit is ons erfbelasting word net so terug geploeg in ons infrastruktuur en dienste. Met die minimale bedrag wat van die regering ontvang word (klein populasie) sal Midvaal nie die mas sonder jou erfbelasting kan opkom nie. So, drastiese veranderinge sal drastiese verhogings noodsaak. Dit is iets wat Midvaal die afgelope paar jaar ten alle kostes probeer vermy het om ons inwoners by te staan in die negatiewe ekonomiese klimaat wat ons ondervind.
Wanneer die vullisverwydersingstrok dus om 01:30 vm by jou verby kom sal ʼn “dankie” eerder waardeer word as ʼn “julle maak my honde blaf” (sien fb). Wanneer hulle in die reën by jou verby ry en steeds sing en fluit omrede hulle ten minste nog ʼn werk het kan ons toet en waai en dankie by die venster uit skreeu… want ons is almal net menslik en floreer op positiewe terugvoer. Vir die ander 99 uit 100 van julle wat dit reeds doen, julle is die sterre van Midvaal.
Trotse Midvaal Groete, Ph!l
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

***************************************************************************************


