‘Seun’ en medepligtige skuldig aan moord op prokureur-sakeman
Die twee mans wat in Januarie 2019 ‘n bekende prokureur-sakeman van Vereeniging vermoor en daarna sy lyk in die Vaalrivier gegooi het is Maandag (11 April 2022) op aanklagte van moord in die Palm Ridge-hof skuldig bevind.
Regter Anthony Thobane het vir Bongani Tau (21) en Andile Mpangeva (20) skuldig bevind op al die aanklagte teen hulle, naamlik die moord op Eric Lyell (68), roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie en dwarsboming van die gereg.
Tau, ‘n werknemer van Lyell, wat by hom gebly het en soos ‘n ‘butler’ en ‘n ‘seun’ vir hom was, en Mpangeva, ‘n medepligtige, het glo op die aand van 11 Janurie 2019 die oorledene by sy huis aangeval.
Tau en Mpangeva het vir Lyell met ‘n piksteel geslaan en met ‘n tou gewurg.
Llyel het aan beserings wat hy tydens die aanval opgedoen het beswyk.
Tau en Mpangeva het op die aand van die moord vir Lyell van sy Volswagen Jetta, ‘n Huaweii-selfoon, sy 9mm Beretta semi-outomatiese pistool met ammunisie en ‘n Seiko-polshorlosie beroof.
Hulle het daarna sy lyk in ‘n kar gelaai, na ‘n brug oor die Vaalrivier gery en die lyk in die water gegooi in ’n poging om bewyse te vernietig.
Lyell se lyk is die volgende dag, op 12 Januarie 2022, in die Vaalrivier ontdek.

Die twee is later in die Oos-Kaap in hegtenis geneem.
Thobane het in sy uitspraak die kwessie van die teenstrydige getuienis wat deur die beskuldigdes gelewer is aangespreek.
Mpangeva het getuig dat hy op Tau afgekom het waar hy reeds besig was om vir Lyell met die piksteel aan te rand en dat hy toe vir Tau gesê het: “Grootman, ek gaan loop. Ek kan nie toekyk hoe jy dit doen nie.”
Volgens Mpangeva se weergawe het hy die piksteel uit Tau se hande gegryp en hom daarmee op die knie geslaan met die verwagting dat Tau op die grond sou val.
Tau het staande gebly en volgens hom ‘n pistool uitgehaal en hom gedwing om hom te help om die liggaam in die voertuig te laai, dit later uit te haal en van die brug af in die rivier te gooi.
Mpangeva se verweer was dat hy onder dwang opgetree het.

Tau het op sy beurt getuig hoe hy op die toneel aangekom het toe Mpangeva reeds besig was om vir vir Llyell aan te rand.
Volgens Tau se weergawe het Mpangeva hom met die piksteel slaan – een keer op die nek en die ander keer in die maag.
Thobane het bevind dat nie Tau se weergawe of Mpangeva se weergawe redelikerwys as die waarheid geag kan word nie en albei se getuienis verwerp.
Wat wel aanvaar kan word is dat hulle die laaste persone was wat Lyell lewend gesien het.
Llyell se dogter, Clarissa Gerber, het getuig hoe kringtelevisie wys hoe die voertuig omstreeks 21:00 die oorledene se woning verlaat.
Getuienis is ook gelewer van ‘n foonoproep waarin Tau ‘n ander persoon omstreeks 18:00 meegedeel het dat Lyell vermoor is.
Volgens Thobane moes die moord tussen 18:00 en 21:00 gebeur het.
Volgens Thobane is die sterktes en swakhede, sowel as die waarskynlikhede en onwaarskynlikhede van die staat en die verdediging se getuienis teen mekaar opgeweeg en is hy oortuig dat die staat daarin geslaag het om sy saak teen die beskuldigdes bo redelike twyfel te bewys.
Die staatsaanklaer, Trott Mphalele, het die hof meegedeel dat nie een van die beskuldigdes vorige veroordelings het nie.

Die saak is tot 17 Junie uitgestel om die staat tyd te gee om voorvonnisverslae te finaliseer.
Die vonnis volg presies drie jaar en drie maande na die moord op Lyell.
Llyel se dogter, Clarissa Gerber, het na afloop van die hofsuitspraak gesê die familie is steeds hartseer oor die moord maar dat hulle verlig is dat die Tau en Mpangeva se verhoor afgehandel is (hulle moet nog gevonnis word).
Die familie glo dat daar meer agter Lyell se dood skuil as net die aanval en rooftog op Lyell op die aand van 11 Januarie 2019.
Gerber het aan Vaalweekblad gesê: “Ronde een is klaar. Ronde twee is op pad.”


