Anri Wenhold swem ‘n storm los
Anri het sport in haar bloed en droom daarvan om eendag vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.
VANDERBIJLPARK. – Anri Wenhold is op haar gelukkigste in die swembad. Haar gunsteling item is die 200m rugslag.
By die onlangse vlak 3 streekkampioenskappe in Pretoria het sy die 50m, 100m en 200m rugslag aangedurf, saam met die 100m en 200m vryslag en die 200m individuele wisselslag.
In elkeen van hierdie items het sy haar eie persoonlike beste tyd verbeter. Sy het in die finaal van die 200m rugslag geswem en in die proses weer haar eie persoonlike beste tyd met 5.6s verbeter.

Op 15 is sy besig om die ranglys te klim en het tussen 8 – 20 plekke opgeskuif in die onderskeie items.
Haar afrigter, Benny Janssen reken sy behoort eersdaags deur te breek om vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Junior Kampioenskappe te kwalifiseer.
“My doelwit is om eendag Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig,” vertel sy.
Een van haar swemhelde is Missy Franklin, ‘n voormalige Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer in die 200m rugslag.
“Missy is ook lank, nes ek. Die langer afstande werk vir ons,” glimlag sy.

Sport loop in Anri se bloed. Haar ma, Annerine was op haar dag ‘n Suid-Afrikaanse baanfietskampioen en haar ouer broer, Edric is ‘n hoogspringatleet van formaat.
“Ek was nog altyd lief vir die water, maar toe ek sewe jaar terug amptelik met swem as sport begin het, was dit omdat ek gedink het dis minder werk as atletiek,” lag sy lekker.
Tans oefen sy vyf dae ‘n week en soms op Saterdae ook. Meeste van die tyd in die swembad, maar daar is ook die gimnasium oefening wat gedoen moet word om krag te bou.
Die groot swemverbod wat saam met die grendelstaat in 2020 gegeld het was vir haar baie erg. “Coach het oefenprogramme gestuur wat mens in jou erf kon doen, maar dit het my gou verveel,” onthou sy.
Gelukkig kon hul weer in Julie van daardie jaar begin swem, al was die eerste galas eers in Desember 2020 toegelaat.
Naas swem, hou Anri ook daarvan om met olieverf te skilder en tyd saam met haar familie deur te bring.
Sy is tans in Graad 10 en volg die Home Life Academy se kurrikulum. Sy het nog geen finale besluite gemaak oor wat sy na matriek gaan doen nie, miskien grafiese ontwerp.
Intussen geniet Anri swem terdeë. “Die Titan swemmers is mekaar se grootste ondersteuners. By die regionals was ons die groep wat die hardste geskree het. Dis lekker as mens onder die water is en jy hoor hoe moedig jou spanmaats jou aan,” sê sy met skitter oë.
“Daar was 68 spanne by die streekkampioenskappe en ons (die Titan Aquatics klub van Benny Janssen) het 14de geëindig.”

