Drie sluise by Vaaldam oopgetrek
Die department van water en sanitasie sê drie sluishekke sal op Dinsdag (12 April 2022) by die Vaaldam oopgetrek word.
VEREENIGING. – Volgens Sputnik Ratau, ’n woordvoerder vir die department, is daar voorgestel dat een sluis om 10:00 oopgetrek word, nog ’n sluis om 12:00 en die derde een om 14:00.
Die besluit om sluishekke oop te trek volg na swaar reënval in die Vaalrivier se opvangsgebied.
Volgens Ratau was daar Dinsdagoggend ’n invloei van 1065.67 kubieke meter per sekonde by die Vaaldam.
Die dam, wat die meeste van Gauteng van water voorsien, was teen Dinsdag 110,5% vol terwyl die Bloemhofdam se vlak 106,9% was.
Ratau het gemeenskappe stroomaf van die Vaaldam gewaarsku dat watervlakke sal styg.
“Inwoners word gewaarsku om gebiede naby die dam te vermy. Gemeenskappe met toerusting in en naby die water moet dit verwyder om skade te vermy,” het Ratau in die verklaring gesê.

