Arrie – die man wat misdaad 24/7 beveg
Hy doen wat hy doen, want hy het net gevoel iemand moet begin opstaan en die gemeenskap help.
VAALPARK. – Tot ‘n paar jaar gelede was Vaalpark maar net nog ‘n dorp waar misdaad aan die toeneem was. Dwelmhandelaars was oral en sluipslapers het die dorp gevaarlik gemaak.
Vandag kan gesinne weer in die aand met die honde gaan stap, drawwers is douvoordag al te sien. Die gemeenskap is veilig, want hul werk saam, staan saam en is betrokke.
Die man agter dit alles is Arrie Coetzee. Nie dat hy daarvan hou as die kollig op hom val nie.

Hy doen wat hy doen, want hy het net gevoel iemand moet begin opstaan en die gemeenskap help.
“In 2016 is daar in die nag by ons ingebreek. Daar is tot goed uit ons slaapkamer gesteel terwyl ons geslaap het,” vertel hy.
“’n Ruk later het ek in een van die strate gery en ‘n klomp polisiemotors voor ‘n huis sien staan. Daar was ‘n gewapende rooftog en die bejaarde egpaar is erg seergemaak. Daardie insident het my kop geswaai.”
Hy het besef daar moet vroeër by mense in nood uitgekom word. Of nog beter, die misdaad moet voorkom word.
Arrie het ook besef dat dit slegs gedoen kon word met samewerking van die gemeenskap se kant af.
Hy het ‘n voorlegging opgestel wat hy en sy seun, Ruan, vir drie ander gewys het.
“Net daar is die Public Eye inisiatief gebore. Ons vyf het begin patrollies ry, man dit het gelyk asof daar 30 van ons was,” lag hy.
Deur die jare het hul baie moeite gedoen om meer mense te betrek en vandag word Vaalpark 24/7 gepatrolleer en gemonitor.
Hulle het mettertyd die noodsaak besef om opgeleide patrolleerders ook te hê en so het die Public Eye Taakspan (PET) ontstaan wat ook geregistreer is as ‘n vennoot by die Vrystaat SAPD.
Arrie self is nou al ‘n CIRA Graad A sekuriteit offisier. Dis ver verwyder van sy oorspronklike kwalifikasie as spesialis sweiser en lektor by die South African Institute of Welding (SAIW).
“Ek was vir twee jaar lektor en het amper elke week in ‘n ander Metro klasgegee,” onthou hy.
Daarna het hy onder meer as sweisingenieur by ‘n groot ingenieursfirma in Johannesburg gewerk voordat hy ‘n pos as afdelingsbestuurder by ‘n maatskappy in Vanderbijlpark aangebied is.
“Ek het baie gereis en het as sweiskonsultant opgetree vir verskeie maatskappye in Zambië, Mosambiek en Indië.”
Tot vlak voor die pandemie het hy voltyds gewerk en Public Eye bestuur, maar sedertdien is al sy aandag op misdaadbekamping en voorkoming in Vaalpark.
Hy is taakgedrewe en nie eens ‘n hartaanval kon hom verlede jaar stuit of oortuig om dinge rustiger te vat nie.
“Vaalpark is ‘n besonderse plek en ek het dit my missie gemaak om hierdie ‘n model dorp te maak. Een waar almal betrokke is en wat as voorbeeld vir ander dorpe kan dien,” verklaar hy beslis.
Wanneer hy kans kry geniet hy dit om aanlyn op die aandelebeurs te speel en hy onthou daar was ‘n tyd wat hy vakansies in Margate geniet het.
Arrie is al sedert 1988 getroud met Anet en die egpaar het ‘n tweeling, Ruan en Charné.
