Midvaal-raadslid sê brug is nie besig om in mekaar te val nie
'n WhatsApp boodskap wat sê dat 'n brug oor die Kliprivier besig is om in mekaar te val is glo vals.
MEYERTON. – Inwoners van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het die afgelope ruk kommer uitgespreek oor die stand van die brug wat Riversdale met Pierneef in Meyerton verbind, maar volgens rdl. Salome Janse van Rensburg, DA-raadslid vir Risiville, is daar niks om oor te bekommer nie.
Janse van Rensburg het navrae aan die burgemeesterskomiteelid vir ingeneursdienste, rdl. Gerrit Viljoen, gerig en Viljoen het verduidelik dat die vore/krake wat besig is om in die padoppervlak van die brug te vorm naby uitsettingsvoege op die brug vorm.
‘n Uitsettingsvoege word gebruik om die dele van ‘n struktuur bymekaar te hou sodat dit temperatuur-geïnduseerde uitsetting en sametrekking van boumateriaal, en vibrasie of beweging weens grondsakking of seismiese aktiwiteit veilig kan absorbeer.
“Dit is uitsettingsvoege. Dit is hoe die brug gebou is en dit beteken nie die brug gaan enige oomblik in mekaar stort en ‘n ongeluk gaan veroorsaak nie,” het Janse van Rensburg in ‘n verklaring op Facebook gesê.
Volgens Janse van Rensburg het Viljoen wel die kwessie onder Gautrans, wat glo vir die instandhouding van die pad verantwoordelik is, se aandag gebring.
Hy het blykbaar ook ‘n vergadering met hulle Woensdag.
OPDATERING: Die munisipaliteit het later ‘n verklaring uitgereik waarin hy sê “die munisipaliteit het nie n opinie oor die toestand van die brug nie”.
In die verklaring word motoriste gevra om “versigtigheid aan die dag te lê wanneer hulle bestuur”.
Volgens die verklaring is Gautrans verantwoordelik vir die brug en nie die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit nie.
Die verklaring moedig motoriste aan om direk met Guatrans te skakel oor die probleem.

Die krake in die padoppervlak. Foto: Verskaf

