Gewapende aanvaller vasgetrek in Vaalpark
Vinnige reaksietyd geloof na insident by vulstasie in Vaalpark.

VAALPARK. – Public Eye het op Donderdag, 14 April 2022 om 09:30 ‘n noodoproep ontvang van ‘n moontlike roof by die Caltex vulstasie in Vaalpark.
Eenhede van verskeie organisasies het dadelik gereageer.
Met hul aankoms op die toneel, is een slagoffer, ‘n hawelose man, gevind met ‘n diep panga wond aan sy arm en sy hand amper afgesny.
Die SAPS en Netcare 911 is ingeroep. Die gewonde man is op die toneel behandel en na die Sasolburg hospitaal geneem. Hy is gestabiliseer, maar het baie bloed verloor.
Die verdagte het in Oliviershoeklaan gevlug. Hy is agtervolg en vasgetrek.
Hy het na bewering ‘n panga en ‘n tipe jagtersmes by hom gehad.
Die misdaadtoneel, wapens en verdagte is aan die polisie oorhandig.
Dank is uitgespreek teenoor Public Eye se Ruan & Heinrich, Sasolburg Alarms, Sasolburg verkeersdepartement, Sasolburg SAPD en Netcare 911 vir hul bystand en vinnige reaksietyd.
