VF Plus dien mosie van wantroue in teen ELM-burgemeester
VANDERBIJLPARK. - Raadslid Gerda Senekal van die VF Plus het vanoggend 'n mosie van wantroue en verwydering namens die party teen die ANC-burgemeester in Emfuleni ingedien.

Dit vereis dat ‘n vergadering binne 14 dae (nie later as 21 dae) gehou moet word sodat die mosie van wantroue aangekoor kan word. Daar sal ook dan ‘n stemproses volg.
Daar word gehoop dat die nodige stemme daartoe sal lei dat die ANC-burgemeester uitgestem word, wat tot gevolg sal hê dat ‘n hele nuwe wending in Emfuleni kan plaasvind.
Dit sal geskiedenis wees as die ANC vir die eerste keer in 20 jaar as regerende party in Emfuleni verwyder kan word. Dit sal beslis ook opslae in Gauteng maak!
Die media en die publiek sal genooi word om dié vergadering by te woon. Indien die burgemeester op die dag uitgestem word, sal dit dan ook tot gevolg hê dat sy 10 burgemeester komiteelede, asook die Speaker en Chief Whip, iets van die verlede sal wees.
Daar sal dan ‘n hele nuwe samestelling wees van samewerkende ooreenkomstige partye om beheer te vat en beter dienslewering te bied.


