Dié Beetle bly in dié Sasolburgse familie
SASOLBURG. - Hy het in 1972 (50 jaar gelede) ‘n splinternuwe Volkswagen Beetle by Duttons in die dorp gekoop en Petrus Nel (77) het onlangs besluit sy jongste seun kan die motor oorneem, net solank dit in die familie bly.
Petrus het steeds die oorspronklike koopkontrak en die diensrekord vanoor die jare. “Ek het in die Oos-Kaap grootgeword en na skool in 1962 in Germiston gewoon en vir die spoorweg gewerk voordat ek in 1970 na Sasolburg verhuis het,” vertel Petrus. Hy bly sedert 1972 steeds in dieselfde huis in Sasolburg.

“Ek het in 1966 my eerste motor, ook ‘n Beetle, vir R1 300 gekoop. Die wit Beetle het ek in 1972 vir R1 900 by Duttons gekoop,” vertel Petrus.
“Die diens met die koop was destyds uitstekend en so ook wanneer ek hom stiptelik laat diens het.” Vir jare was die Beetle ‘n gesinsmotor. Later het die Nel-huishouding ook ‘n VW Kombi gekry wat vir die gesin ‘n “groot verandering” was.
Deur die jare was daar ook ander motors (almal natuurlik Volkswagen). Petrus het egter sentimentele waarde aan sy wit Beetle geheg en nooit oorweeg om te verkoop nie.
Uiteindelik het die wit Beetle in onbruik geraak en vir jare onder die afdak gestaan. Sy jongste seun, Beyers, het besluit die Beetle kort so ‘n bietjie TLC (tender loving care). “Die Beetle is nou weer so nuut soos in 1972 toe my pa hom uit Duttons se vertoonlokaal gery het,” sê Beyers.


“Ek wil net graag vir Orlando en Jose van Redline Panelbeaters bedank vir hulle uitstekende werk,” sê die trotse nuwe eienaar. Die Beetle se oorspronklike kenmerke het behoue gebly.
“Ek heg ook sentimentele waarde aan die Beetle. Ek onthou die dae wat ons met vakansie Hibberdene toe gegaan het, dan het ons die agterste sitplek platgeslaan. Ek, my broer en suster het so in ‘n driehoek gesit. Die spasie was beperk, so ons het net een tas gehad vir die vyf van ons,” vertel Beyers.
Hy beplan om met die spoggerige Beetle aan motorskoue deel te neem. Hy en pa Petrus gaan ook binnekort vir die eerste keer in jare met die Beetle op ‘n “road trip”.
* Vaalweekblad beplan om ‘n opvolg berig hieroor te doen.

