Ooggetuies gesoek na vrou se dood in tref-en-trap ongeluk
Die familie versoek enigiemand met inligting of videomateriaal van 26 Maart wat dalk die skuldige se voertuig afgeneem het, om ondersoekbeampte Rapadi by (016) 987 6759, of Madelein by 079 773 9770 te kontak.
VANDERBIJLPARK. – Die familie van mev. Penny (Lala) Falch is steeds platgeslaan van verdriet nadat sy drie weke gelede op die Barragepad buite Vanderbijlpark in ‘n tref-en-trap ongeluk gesterf het.
Saam met die smart is hulle ook verbitterd teenoor die skuldige wat haar dood veroorsaak het en weggejaag het sonder om hulp aan die sterwende vrou te verleen.
“Ons as familie het die publiek se hulp nodig en hoop om ‘n ooggetuie op te spoor, of iemand wat meer inligting oor die ongeluk het,” sê ‘n familielid, mev. Madelein Cock.
Die 44-jarige Penny het die aand van 26 Maart met haar bromponie gery om brandstof vir ‘n familielid wat dit nodig gehad het, te neem. Met haar terugrit is sy sowat 300 meter van haar huis af op die Barragepad (R42) naby die Rusticana-afdraai deur ‘n bakkie getref.
Penny en haar bromponie is ongeveer 200 meter ver deur die voertuig gestoot of gesleep. Die bakkie is toe van die pad af in die veld in, waar die erg beseerde Penny en haar bromponie agtergelaat is. Die bestuurder het weggejaag. Die ongeluk het tussen middernag en 01:00 plaasgevind.
Een van haar seuns het geluide gehoor, ligte gesien en na die ongelukstoneel gehardloop, waar hy met skok besef het dat dit sy ma was. Die plaaslike buurtwag het toe ook reeds op die toneel aangekom. Penny is op die toneel dood verklaar.
‘n Stuk van die bakkie se modderskerm en lig is op die toneel gevind, wat daarop dui dat sy deur ‘n wit Toyota Hilux getref is. Die voertuig se oliespoor is vanaf die ongelukstoneel gevolg, wat wys dat die drywer vanaf die R42 regs gedraai het op die R553 en reguit oor die vierrigtingstop, verby die DBV se perseel na die Bophelong/Muvhango-woongebied gery het. Die spoor het daar doodgeloop.
“Ek hoop ons kan die skuldige kry. Watter soort mens ry iemand so dood en jaag dan net weg,” vra Madelein.
“Penny het ‘n tyd gelede nog by El Torro Slaghuis gewerk, maar het ten tyde van haar dood nie buitenshuis gewerk nie. Haar twee seuns, Ricardo en Duncan, was haar trots. Sy was die Sondag voor haar dood by my en my man en het toe nog met soveel trots oor hulle gepraat. Nou is sy nie meer hier nie. Ons het nooit gedink dit sou die laaste keer wees nie.”
‘n Roudiens is op 2 April by die Ou Apostoliese Kerk gehou, en volgens Madelein sê die begrafnisbrief alles oor Penny se persoonlikheid: “Sy was ‘n borrelende, vreugdevolle, liefdevolle mens. Haar hande en hart was altyd oop vir haar naaste en vir alle diere. Hoewel sy tye van swaarkry en hartseer in haar lewe ervaar het, het sy die familie se lewe met lentebloeisels gevul. Haar skaterlag weergalm in ons harte, en nou ook in die Hemel.”
Penny se beserings was so ernstig dat die familie deur die begrafnisonderneming afgeraai is om ‘n besigtiging te hou.
* Die familie versoek enigiemand met inligting of videomateriaal van 26 Maart wat dalk die skuldige se voertuig afgeneem het, om ondersoekbeampte Rapadi by (016) 987 6759, of Madelein by 079 773 9770 te kontak.

******************************************************************************************

