Hart eis geliefde oud-gesondheidsinspekteur van Emfuleni
Wyle mnr. Hennie Kruger was van 1966 tot 2000 aan die Vanderbijlparkse munisipaliteit verbonde, onder andere as streeksgesondheidsinspekteur.
VANDERBIJLPARK. – Mnr. Hennie Kruger, voormalige gesondheidsinspekteur van die dorp, is Maandag, 4 April vermoedelik aan ‘n hartaanval by sy huis in Herfsoord oorlede. Dit was slegs vier dae voor dié bekende en geliefde inwoner se 78ste verjaardag.
“Ons harte is gebreek met die skielike heengaan van Pa. Hy was altyd en met alles in ons lewens betrokke. Wat my altyd sal bybly is sy onvoorwaardelike, ontsaglike liefde vir ons gesin. Sy onwankelbare geloof in ons Vader, selfs in moeilike tye, is ‘n voorbeeld wat ons almal nastreef,” sê sy seun Charl, ‘n bekende prokureur van Vanderbijlpark.
Wyle mnr. Kruger is op 8 April 1944 in Pretoria gebore en het in sy kinderjare saam met sy ouers na die Vaaldriehoek verhuis. Hy was vanaf 1966 tot 2000 aan die Vanderbijlparkse munisipaliteit verbonde, onder andere as streeksgesondheidsinspekteur.
Hy was baie bekend in rugbykringe en het reeds op die ouderdom van 18 tydens sy dienspligjare aan Leër Gimnasium in Pretoria, vir die Bulle se o.21-span gespeel. Gedurende 1962 het hy ook twee wedstryde vir die senior Blou Bulle gespeel en saam getoer waar hulle in voorwedstryde voor toetse teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het. Mnr. Kruger het tot op die ouderdom van 37 steeds vir Yskor-rugbyklub uitgedraf.
Buiten vir sy toewyding aan sy gesin, sy werk en sport, was hy ook ‘n geregistreerde tekenaar wat groot genot geput het uit sy stokperdjie van amper 38 jaar, naamlik om bouplanne te teken. Mnr. Kruger en sy vrou Rennie is op 28 Januarie 1967 getroud en het in Januarie vanjaar hul 55ste huweliksherdenking gevier. Ondanks hul dekades van geluk moes die egpaar ‘n paar jaar gelede ook deur diep hartseer gaan met die afsterwe van een van hul seuns, Shaun.
Mnr. Kruger word buiten sy vrou oorleef deur sy broer Faan, seun Charl, skoondogter Yolanda en kleinseun Calum.
Die begrafnis het Maandag, 11 April, vanuit Kompas Gemeente in Vanderbijlpark plaasgevind.

**************************************************************************************

