NWU se Skool vir Rekeningkunde weer tops in SA
Net 29 uit die 2 057 kandidate landwyd wat die ITC-eksamen geskryf het, het met onderskeiding geslaag, van wie drie aan die NWU opgelei is.
VANDERBIJLPARK. – Die pasvrygestelde uitslae van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA) se Januarie-eksamen bewys dat die Noordwes-Universiteit (NWU) bo-aan Suid-Afrika se lys vir gehalte-onderrig in rekeningkunde staan!
Die universiteit het deur die jare konstant uitstekende uitslae in die SAICA-eksamen opgelewer, en die jongste uitslae bevestig dat die NWU se toewyding en uitnemendheid op die gebied van rekeningkunde net van krag-tot-krag gaan – ondanks spanningsvolle uitdagings in die afgelope twee jaar.
Volgens die uitslae het NWU-studente ‘n 99%-slaagsyfer (76 uit 77 kandidate) behaal in SAICA se eksamen vir kandidate wat vir die eerste keer die Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (ITC) geskryf het.
“Met die 99% slaagsyfer is die NWU gesamentlik in die eerste plek saam met die Universiteit van Pretoria,” sê ‘n trotse prof. Heleen Janse van Vuuren, direkteur van die Skool vir Rekeningkunde by die NWU.
“Wat die prestasie nog meer spesiaal maak, is dat hierdie kandidate in 2020 in hul derde jaar was toe die pandemie uitgebreek het en ons inderhaas na aanlyn-lesings moes oorbeweeg. Dié kandidate was verlede jaar in hul STR-jaar, wat hulle eers moes slaag voordat hulle die SAICA-raadseksamen in Januarie kon skryf.
“Ons het hulle hard gedruk en hulle het regtig alles ingesit,” sê prof. Janse van Vuuren.
Net 29 uit die 2 057 kandidate wat die ITC geskryf het, het met onderskeiding geslaag, van wie drie van die NWU af kom. Die Vanderbijlparkkampus het twee van dié onderskeidingkandidate opgelewer. Hulle is Tiaan Redelinghuys en Robert Brink, wat vanjaar akademiese klerke in die Skool vir Rekeningkunde is. Die derde een van die NWU wat ook met onderskeiding geslaag het, is Kirsten Reid van die Potchefstroomkampus.
“Ek is baie trots op al ons studente sowel as die uitstekende personeel in die Skool, wat hul allerbeste gegee het om te verseker dat gehalte-onderrig in die uitdagende Covid-19-omstandighede kon voortgaan,” sê prof. Janse van Vuuren.
Prof. Heleen Janse van Vuuren, direkteur van die NWU se Skool vir Rekeningkunde.
Foto onder: Robert Brink

Foto onder: Tiaan Redelinghuys.


*********************************************************************************************************

