Die ware rede waarom ons Paasfees vier
Christene weet dié fees gaan oor baie meer as net rus en lekker eet.
Hierdie naweek herdenk die Christelike wêreld Paasfees. Van 15 tot 18 April kan ons lekker uitspan vir die langnaweek en weglê aan sjokolade-eiers en ander heerlike Paasfeeskos. Maar alle Christene weet dié fees gaan oor baie meer as net rus en lekker eet.
Paasfees word elke jaar op ‘n ander datum gevier en val gewoonlik op die eerste Sondag wat volg op die eerste volmaan ná 21 Maart.
Vir ongelowiges of “lou” Christene is dit dalk net nog ‘n langnaweek, maar vir ware kinders van God het dié tyd ‘n baie diep betekenis: Om die dag te gedenk toe Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf en daarna die dood oorwin het sodat ons die ewige lewe kan hê.
Die Christelike fees van Jesus se opstanding het simboliese wortels in die Joodse Pesachfees (Pasga in Aramees, of Passover in Engels), wat sowat 4 000 jaar gelede vir die eerste keer deur die Jode gevier is om God te dank vir hul bevryding uit Egipte, waar hulle slawe was. Die Pasga het daarna ‘n jaarlikse instelling geword.
Die aand voor Jesus se kruisiging het Hy die oorspronklike betekenis van die Pasga verander: Dit sou voortaan nie meer net ʼn dankfees wees vir die verlossing uit Egipte nie, maar ʼn fees om God te dank dat Hy die mensdom uit die mag van sonde en dood gered het deur die kruisdood van sy Seun, Jesus Christus. Paasfees gee alle Christene opnuut die motivering om die boodskap van Verlossing uit te leef sodat ander ook die verlossingskrag van Sy liefde in ons kan sien.
Die Paastyd val egter ook saam met oeroue Europese feeste se simbole soos eiers en hase, wat tot vandag toe nie-amptelik in die Christelike Paasfees geïnkorporeer is. Omdat dit dié tyd van die jaar lente in die Noordelike halfrond word, was sulke Europese feeste hoofsaaklik om vrugbaarheid te vier en die nuwe plantseisoen te verwelkom. In Suid-Afrika, soos in die res van die suidelike halfrond, begin ons gereedmaak vir die winter – ‘n nuwe seisoen om voedsel te versamel vir die koue maande wat kom. Dit verwys nie net na fisiese kos om ons liggame te voed nie, maar ook ‘n soeke en versameling van sielsvoedsel wat ons siele sal voed en versterk tot in ewigheid.
In die suidelike halfrond verwelkom ons dus ook ‘n nuwe seisoen – ‘n tydperk waar ons ons fisiese blyplekke en die omgewing rondom ons gereed kry vir die winter en inbeweeg na ons dieper self. ‘n Vervullende tyd van oordenking en dankbaarheid vir alles wat ons het.

***************************************************************************************

