Pret in die modder by DP de Villiers-stadion
“Modderig maar pret.” Dit is hoe 'n deelnemer die heel eerste Sasolburg Stadion parkrun beskryf.
SASOLBURG. – Die heel eerste Sasolburg Stadion parkrun is op Saterdag (16 April 2022) in ligte in ligte motreën in die veld rondom die DP de Villiers-stadion gehou.
Die roete was effens modderig weens die feit dat dit feitlik regdeur die nag gereën het, maar al die deelnemers het dit nogtans baie geniet.
Volgens die amptelike uitslae het altesaam 101 deelnemers die uitdaging aangepak.
Dit sluit 49 mans en 39 vroue in (en 13 deelnemers wie se geslag onbekend is omdat hul parkrun-kaartjies nie geskandeer is nie).

Daar was heelwat bekende gesigte wat gereeld aan die Heron Banks parkrun deelgeneem het wat dié splinternuwe parkrun bygewoon het.
(Laasgenoemde parkrun het in Maart 2020 doodgeloop, kort voor die noodtoestand en harde grendeltydperk wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is, en is daarna nie weer hervat nie).
Die amptelike uitslae wys dat Wynand Nortjie (18-19) die eerste man was om die 5km-roete in ‘n tyd van 20 minute en 20 sekondes te voltooi en dat Hanlie Els (55-59) die eerste vrou was om die 5km-roete in ‘n tyd van 23 minute en 26 sekondes te voltooi.
Die laaste deelnemer wie se tyd aangeteken is het die 5km in ‘n tyd van 58 minute en 55 sekondes voltooi.

Die Sasolburg Stadion parkrun sal voortaan elke Saterdag om 08:00 by die DP de Villiers-stadion plaasvind en is vir stappers en hardlopers, oud en jonk.
Deelnemers moet vooraf by www.parkrun.co.za registreer en dan ‘n kaartjie met ‘n strepieskode uitdruk en laat lamineer, wat hulle dan saam met hulle na die parkrun moet vat.
Elke deelnemer se kaartjie word ná die tyd geskandeer en hul uitslae word op Sasolburg Stadion parkrun se amptelike webwerf gelaai.
Die parkrun word weekliks danksy ‘n span vrywilligers moontlik gemaak.
As jy belangstel om vrywillig by die parkrun te werk kan jy ‘n e-pos aan sasolburgstadium@parkrun.com stuur.
Besoek Sasolburg Stadion parkrun se amptelik webwerf by https://www.parkrun.co.za/sasolburgstadium/ vir meer inligting.
Hulle het ook ‘n Facebook-blad.



