Local newsNewsNews

Groot kommer na derde voertuig by sinkgat insak

Die oorsaak van die sinkgate is ‘n lekkende waterpyp wat die grond onder die oppervlak van die saketerrein uitkalwe

VANDERBIJLPARK. – ‘n Sakeman sit met sy hande in die hare nadat ‘n derde voertuig verlede week gedeeltelik in ‘n sinkgat op sy sakeperseel in Burnsstraat, CW6, ingesak het.

“Ek vrees die dag dat iemand niksvermoedend hier loop en die grond skielik meegee want dit gebeur sonder waarskuwing,” sê mnr. Danie Bell van DB Auto Electric.

Die gate wat reeds ingeval het, is sowat 1½ meter diep en kan sekerlik ernstige beserings veroorsaak as iemand daarin val. Die stukke teerblad en grond wat reeds ingeval het, is skaars ‘n meter van die sakegeboue se fondasie af.

Die oorsaak van die sinkgate is ‘n lekkende waterpyp wat die grond onder die oppervlak van die saketerrein uitkalwe totdat ‘n groot gat inval en die waterpyp sodoende verder beskadig word.

Die oorsprong van die probleem lê vermoedelik ‘n ent hoër op by die stukkende stormwaterpyp op die hoek van die straat, wat ander waterpype in die gebied ook laat ingee.

Die groot 4×4 bakkie van ‘n kliënt wat verlede week op die saketerrein ingesak het, sou waarskynlik die hele 1½ meter aan die voorkant ingeval het, was dit nie vir die bosbrekerstaaf wat aan die rand van die sinkgat vasgehaak en die voertuig in die gat laat hang het nie.

Die gat is by die oppervlak tussen 3,5 en 4m lank, met ‘n deursneë van 1.7m tot 2m. “Een van ons eie trokke het ook ‘n tyd gelede ingeval toe alles onder hom meegegee het. Die waterpyp was toe ook stukkend, wat ons toe nog nie geweet het nie.

“Die koste om daai trok daar uit te kry was R2 800. ‘n Groot plaaslike nywerheid se voertuig het intussen ook op ons terrein ingeval, maar daar was gelukkig geen skade aan die voertuig nie,” sê Danie.

“Ons het al voor die Covid-inperking herhaaldelike probleme met lekkende ondergrondse waterpype gehad. Na weke se mooipraat en blink-lek kom maak Metsi dan die pyp reg, maar los alles net so oop. Ek het die gate dan maar op eie koste toegemaak sodat dit darem netjies voor die winkel lyk, maar die pyp lek nog steeds. Dit is net halfpad reggemaak. Daar stroom steeds duisende liter water daaruit.”

* Vaalweekblad het die waterprobleem in die betrokke gebied weer onder die aandag van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gebring.

 

Die voertuig wat verlede week gedeeltelik in ‘n nuwe sinkgat op die terrein ingeval het. Danksy die bosbreker het dit aan die buitekant van die gat vasgehaak en nie die hele 1½  meter ingestort nie.

 

Foto Bo: Die nuwe sinkgat is baie na aan die fondasie van sekere geboue op die sakeperseel.

 

 

Onder: ‘n Trok wat ook onlangs aan die voorkant ingesak het.

*****************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button