Vaalparkers vul slaggat laatnag op
Wys jou net wat gedoen kan word as mense saam werk
VAALPARK. – Twee slaggate op die R59 tussen Sasolburg en Vaalpark het Donderdagaand, 14 April verskeie motors tot stilstand gedwing.
Public Eye se kontrolekamer het om 19:49 op hul VIP Vaalpark Telegramgroep gevra dat mense moet kom help.
Verskeie mense het dadelik hulp aangebied en was algou op die toneel gewapen flitsligte en toerusting om die mense te help bande ruil.
Om 21:34 het nog ‘n boodskap deurgekom, die slaggat nader aan Taaibosspruit het ook ‘n hele paar voertuie met papbande gelaat.
Die verkeersdepartement was ook op die toneel en daar is gepoog om almal so gou moontlik weer op die pad te kry.
Die gate was egter ‘n groot gevaar. Teer is bekom en met die regte toerusting tot hul beskikking is die eerste groot gat gevul en gekompakteer met 14 sakkies teer.
Teen 23:14 het die span laat weet hulle is klaar. Dis abosoluut ongelooflik hoe die Vaalparkers net saamstaan en dinge gedoen kry.
Die span wat sonder om twee keer te dink die koue en nat weer aangedurf het was Arrie Coetzee, Sandy Potgieter, Jaco Potgieter, Naas Swart, Trompie Swart, Joe Meyer, Ram, Timothy van Vaal Auto Craft en Pieter Kotze.
