Beroepsdag vir hoërskoolleerders
Loopbaankeuses is altyd moeilik en soms kan mens in die doolhof van universiteitsterme verdwaal. 'n Beroepsdag kan lig verskaf.

SASOLBURG. – ‘n Spesiale beroepsdag vir hoërskoolleerders wat universiteitstudies oorweeg word op 27 April 2022 vanaf 08:30 – 13:00 by Sasolburg Fontein Gemeente, 58 Van Wouwstraat aangebied.
Kostes beloop R50pp en ouers is ook welkom om die dag by te woon. Marida Steurer bied die dag saam met Louisa Hattingh aan.
“Ons het agter gekom dat jongmense se blootstelling dikwels beperk is tot die werk wat naby familie of vriende doen. Ek het gereeld gesprekke met tieners oor hul beroepskeuses en ‘n dogter het my onlangs gevra wat ‘n apteker bv. eintlik doen,” het Marida gesê.
Die twee dames gaan begin deur ‘n breë oorsig te gee oor die manier waarop universiteite hul studierigtings groepeer en die benamings wat hulle vir kwalifikasies gebruik, byvoorbeeld wat beteken dit as iemand BSc of BCom studeer.

Daarna het gaan daar verskillende sessies wees waar mense uit die praktyk meer kom vertel oor hul spesifieke veld.
Dit sal BSc tegniese rigtings, BSc mediese rigtings, BCom en BA rigtings insluit. Daar sal ‘n breek na elke spreker wees wat mense die kans sal gun om met die sprekers te gesels.
Marida sê sy het onlangs haar verhandeling gedoen oor die verwagtinge wat werkgewers van pas gegradueerdes het in terme van hul sagte vaardighede.
“Ek het weer besef hoe jongmense hulself al op skool kan voorberei op hul uiteindelike loopbane. Om goeie navorsing te doen oor waarheen jy op pad is, om die verskillende opsies te oorweeg van hoe om daar uit te kom en om met mense in die praktyk te gesels is van die vertrekpunte.”
Belangstellendes word gevra om teen 25 April 2022 te registreer. WhatsApp om ‘n inskrywingsvorm te bekom na 078 060 2713.

