Local newsNewsNews

Jackie van Waveren – die een wat omgee

Rotariër, sakevrou, suster, ma, vriendin - daar is maar een Jackie van Waveren

VANDERBIJLPARK. – As skooldogter aan die Laerskool Frikkie Meyer het Jackie van Waveren gedroom om ‘n seerower te word.

Kinders van die 80’s sal dadelik weet sy het Pippie Langkous gekyk. “Daardie jare was van die bestes in my lewe,” onthou sy die sorgvrye tyd van verbeeldingsvlugte en baie speel.

 

Jackie van Waveren. Foto: verskaf

“Op laerskool het ek netbal A-span gespeel. Hoofdoel nogal. Ek was ook ‘n Voortrekker. Dit het ek nou baie geniet, al die spoorsny en stokbrood maak en lantern bekruip,” lag sy lekker.

Haar hoërskoolloopbaan het sy aan die destydse Lettie Fouché Handelskool voltooi. “My hoërskooljare was net so lekker. Ek het een jaar net vir die grap sommer ingeskryf vir die 1 500m. Dit het vir groot vermaak onder my maats gesorg,” beduie Jackie, wat nog nooit nee gesê het vir bietjie pret nie.

Maar, sy het ook ‘n ernstige kant. Die lewe het sedert daardie speeljare menig maal sy skerpkant na haar gedraai.

So ken sy die seer van om ‘n eggenoot aan die dood af te staan en ook die seer van emosionele mishandeling en egskeiding.

“Ek het empatie met vroue wat deur emosionele mishandeling gaan. Dis een van die redes hoekom ek altyd help,” sê sy.

Jackie help graag. Altyd. Haar hart is by die gemeenskap, hul behoeftes en probleme. Dié dat sy oral betrokke is, van die Rotary Klub van Vanderbijlpark tot by voorsitter van Kammaland Kleuterskool se beheerraad.

Sy is ook deel van die Golden Triangle Chamber of Commerc (GTCoC).

‘n Mens kry gewoonlik leiers en doeners. Jackie is albei. Sy is ‘n gebore leier wat nie twee keer dink om self te doen nie.

Dan het sy ook die gawe om mense of organisasies bymekaar uit te bring. Haar netwerk van kennisse, kliënte en vriende strek wyd en sy weet hoe om almal te organiseer sodat goed gebeur.

Vat nou maar net die allemintige groot kombers in die vorm van die Suid-Afrikaanse vlag wat in 2019 opslae gemaak het.

Jackie was op daardie stadium president van die Rotary Klub van Vanderbijlpark en beskou daardie reuse projek steeds as ‘n hoogtepunt.

Jackie is ook besigheidsvrou en sal Junie maand al 20 jaar in die konstruksiebedryf wees. “Ek het destyds in Johannesburg gewerk, maar in Vanderbijlpark gebly. Dit was lang ure op die pad en ek het my kind bittermin gesien. Ek het my pa gevra om my te help werk soek, toe sê hy ek moet by hom gaan uithelp.”

Jackie saam met haar dogter, Chantal en skoonseun, Kobus Bosch.

Wel, die res is geskiedenis. Sy het mettertyd die besigheid by haar pa oorgeneem en vandag bestuur sy Alco Beton met die hulp van haar suster, Susan.

“My pa het ons goed geleer. Ek en my sus moes op ‘n kol self die vurkhysers bestuur om randstene te pak,” vertel sy met ‘n glimlag. “Vandag sê ek dankie vir my pa. Hy het ons streng grootgemaak en ons geleer om hard te werk, maar daar was ook baie lag in ons huis.

“My ouers het hard gewerk en baie opofferings vir ons gemaak,” onthou sy. As kind was haar ma die een na wie sy gedraai het vir raad, vandag is dit haar suster.

Sy en Susan het op skool nie altyd langs dieselfde vuur gesit nie, maar nou is hul beste vriende.

Jackie is baie geheg aan haar familie. Haar ouers boer nog met Ngunibeeste buite Vanderbijlpark en sy gaan maak gereeld daar ‘n draai.

Haar hart se punt is haar dogter Chantal en skoonseun, Kobus. “Ek is baie lief vir my skoonseun. Ek dink ek is die beste skoonma,” lag sy weer lekker.

“My grootste wens vir ons dorp is dat mense meer betrokke sal raak. Jy weet, alles gebeur met genade,” sê Jackie.

Genade ja, geseënd ja, maar Jackie het ook ‘n besonderse vermoë om dinge aan die gang te kry en dit aan die gang te hou.

Daarvan kan almal getuig wat daagliks gesiens en ongesiens deur haar gehelp word. Dankie Jackie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button