Midvaal boet en sus reg vir wêreldbeker-aksie-netbal
MEYERTON. - Dié Pretorius-sibbe staan nie in mekaar se skaduwee nie! Albei het onlangs puik presteer in aksie-netbal om by die oefengroepe ingesluit te word vir die 2023 wêreldbekerspanne.

Kara en haar jonger broer PC jr. (ja julle het reg geraai, dié Petoorsies is Midvaal hoofsweep Phil Pretorius se spruite), het saam in die o.23 gemengde span vir die Vaal Vikings aan die jaarlikse IPTs (Inter Provincial Tournament) in Brackenfell in die Wes Kaap deelgeneem.
Kara wat in 2017 aan Dr. Malan gematrikuleer het en in 2021 die graad B.HSc. (hons) in Biokinetika aan NWU voltooi het, het in Januarie vanjaar as biokinetikus by Dokkies aangesluit. Kara is gekeur en opgeneem vir die die ope-oefengroep (bo 23) aangesien sy ten tyde van die wêreldbeker (2023) reeds 23 sal wees.

PC wat in 2018 as hoofseun aan Dr. Malan gematrikuleer het en tans B.Sc.Pharm aan die NWU studeer, is gekeur en opgeneem in die o.23 gemengde-oefengroep vir die 2023 wêreldbekerspan.
Uit die 15 gekeurde spelers sal 10 in 2023 gekies word vir die finale SA span wat in 2023 in die wêreldbeker sal speel. Dit is nie die eerste keer wat die twee Petoorsies hul talente op die aksie-netbalbaan laat geld nie.
Hulle het in 2018 vir die o.19 gemende SA span by die wêreldbekertoernooi uitgedraf waar hulle silwermedaljes verwerf het. PC was ook aangewys as die o.19 gemengde speler van die wêreldbeker by die toernooi.
Juffrou Kara sê: “Wat is nou lekkerder as om netbal te kan afrig, te speel en te kondisioneer op skool, provinsiaal en nasionale vlak. Wat ‘n voorreg.” Die Dokkies is natuurlik super trots op juffrou Kara, en so ook die res van die Vaal. Baie geluk Petoorsies.



