Liané is Vaalweekblad Bruid van die Jaar
VEREENIGING. - Na vele aanpassings om die kompetisie aan te bied en ‘n strawwe beoordelingsessie, is Vaalweekblad se Bruid van die Jaar uiteindelik gekroon. Dié spoggerige geleentheid is verlede week tydens ‘n high tea-geleentheid by Three Rivers Lodge gehou.
“Weens die eindelose Covid-pandemie, moes die basiese konsep aangepas word en kon ons jaarlikse glansgeleentheid nie aangebied word nie,” verduidelik organiseerder, Penelope van Vuuren, van Vaalweekblad.
Nietemin het bruide steeds die geleentheid gehad om mekaar te ontmoet en troufoto’s en detail uit te ruil. Selfs die hewige reënbui wat uitgesak het, kon nie die geesdrif demp nie.
Die 27-jarige Liané Labuschagné, ‘n Vaaldriehoeker in murg en been, is as die wenner gekroon. Sy en haar man, Morné, is op 4 Maart 2021 tydens ‘n klein, intieme geleentheid by Oakfield Farm Wedding and Function Venue getroud.
Liané is ‘n bourekenaar en Morné ‘n elektriese tegnoloog. Die tweetjies beplan om hulself plaaslik te vestig, met hul geliefde hond, Bismark (‘n groot, bruin Weimeraner).
“Ons bedank Three Rivers Lodge vir die gebruik van hul fasiliteite, asook die pragtige bruide wat die kompetisie ‘n sukses help maak het,” het Penelope afgesluit.




