‘n Wonderwerk vir Paasfees
Groot vreudge toe MS pasiënt weer haar bene kan beweeg, staan en selfs loop.
VANDERBIJLPARK. – Marita Seyffert kan weer loop! Haar stamseloorplanting was ‘n reuse sukses. Alles het so goed gegaan en vining gebeur dat selfs die dokters stomgeslaan is.
Marita is 13 jaar gelede met veelvuldige sklerose gediagnoseer. Die afgelope 18 maande het haar toestand baie vining agteruitgegaan en sy het die laaste drie maande in ‘n rolstoel deurgebring.
Sy kon niks meer vir haarself doen nie en haar man moes haar met alles help van was en aantrek tot in en uit die rolstoel tel.
Van loop was daar nie meer sprake nie. ‘n Stamseloorplanting was ‘n opsie vir behandeling.
Dis ‘n duur proses en nie almal het dieselfde resultate nie. Haar vriende en familie het ingespring en verskeie fondinsamelings gereël – en hulle doen steeds.

Vaalweekblad het in Maart ‘n telefoniese onderhoud met haar gedoen vlak voordat sy in die hospitaal opgeneem is vir die behandeling in die Donald Gordon Hospitaal in Johannesburg.
Die verwagting was dat sy tot ses weke in isolasie in die hospitaal sou wees. Marita is na slegs drie weke ontslaan en maak elke dag vordering.
Sy beskou dit as ‘n wonderwerk en sê alles het in drieë gebeur. Daar is met chemoterapie begin om haar immuniteitsstelsel heeltemal af te breek.
Na drie dae van chemo kon sy haar bene beweeg. “Die suster wat my in die badkamer gehelp het, het op die grond gaan sit en huil toe sy dit sien,” onthou sy.
Dr Justin du Toit kon nie die goeie nuus glo nie en het dadelik hospitaal toe gery om dit self te sien.
Met haar immuniteitsvlakke op nul is daar begin om die stamselle wat in Maart geoes is, terug te sit.
Drie dae later kon sy al regop staan en het sy gevoel in haar derms begin terugkry.
“Al die sensasies was baie seer. Daar was vir 18 maande geen kommunikasie tussen my brein en my liggaam nie. Maar, ek het die Here die heeltyd by my gevoel en die personeel was ongelooflik goed vir my,” het sy telefonies laat weet.
Marita borrel oor van lewenslus en vreugde op die stadium “Ek weet daar lê nog ‘n lang pad voor na volkome herstel, en baie fisioterapie maar ek is reg vir dit. Daardie eerste aand in die hospitaal het ek gehuil en gewonder hoe gaan ek so lank in daardie kamertjie bly?
Ek het selfs gesukkel om te bid, maar Fil. 4:13 het by my opgekom en ek het geweet ek is tot alles in staat, deur Hom wat my krag gee. Die volgende oggend het ek met die grootste vrede wakker geword.”
Sy is ‘n buitelugmens en sien uit daarna om weer kaalvoet op die gras te kan loop. Vir nou is sy baie gelukkig om by die huis te kan wees by haar gesin en hond.
Marita se hart is gevul met dankbaarheid teenoor die dokters en verpleegpersoneel, maar ook haar familie en vriende wat haar bystaan en steeds fondse insamel.
“Elke sent ekstra sal gaan om te veg sodat stamseloorplanting ‘n goedgekeurde behandeling vir MS pasiënte word. Hoekom moet iemand eers in ‘n rolstoel wees voordat hul gehelp kan word?”
Sy is vasberade om in die vervolg ‘n kampvegter vir MS-lyers te wees.
Intussen is sy ‘n rolmodel en inspirasie vir almal met haar positiewe ingesteldheid, deursettingsvermoë en onwrikbare geloof.

