Opdatering: Hartseer storie met ‘n goeie einde!
Terwyl Gerhard in die hospitaal opgeneem is na die ongeluk, het Hester weer op die toneel na hul hondjie gaan soek, maar kon haar nie vind nie
VANDERBIJLPARK. – Hester Muller en haar verloofde, Gerhard Vermeulen (48) sal Goeie Vrydag 2022 altyd onthou as ‘n traumatiese dag: ‘n Dag waarop hulle met die slegste maar ook met die beste in die mensdom te doen gekry het.
Die dag het goed vir die paartjie begin met ‘n kuiertjie by vriende op ‘n plaas naby Vaaloewer. Toe Gerhard, ‘n takbestuurder by ‘n groot konstruksie-beplanningmaatskappy, kort voor 19:00 saam met hul geliefde Pekingese hondjie, Miley, in sy bakkie huis toe ry, het Hester besluit om nog ‘n rukkie te kuier. Sy is omstreeks 20:30 met haar eie motor huis toe, maar daar was geen teken van Gerhard by hul huis in SW5 nie.
“Ek was dadelik bekommerd omdat hy lank voor my gery het. Ek het begin rondbel maar niemand het hom weer gesien nie,” sê Hester. Min het sy geweet dat Gerhard omstreeks 19:00 naby Vaaloewer in ‘n ongeluk betrokke was. Sy bakkie het in die reën omgeslaan en hy was onder die voertuig vasgepen. Omdat die bakkie in die bosse langs die pad gelê het en nie maklik in die reën van die pad af sigbaar was nie, is Hester en ander motoriste daar verby sonder om dit te besef.
“Omstreeks 01:00 Saterdagoggend het my deurklokkie gelui en ‘n man van ER24 het my kom sê dat Gerhard in ‘n ongeluk was en per ambulans na Mediclinic Emfuleni geneem word. Ek is histeries hospitaal toe, waar die ambulans toe ook net met Gerhard gestop het. Hy is direk vir skanderings en x-strale geneem, en ek kon hom nie dadelik sien nie.
“Ek het die man van ER24 gevra waar Miley is, maar hy het gesê daar was nie ‘n hondjie op die toneel nie.
“Ek het my pa-hulle, wat op Vaaloewer bly, gebel en gevra om te gaan kyk of hulle Miley kon vind. Omdat ek nie dadelik vir Gerhard kon sien nie, het ek en een van ons vriende besluit om ook uit te ry na die ongelukstoneel want as sy my stem hoor, sou sy dalk uitkom. Ons het in die veld geroep en geskree… maar niks.”
Gerhard is in die tussentyd met ‘n gebreekte sleutelbeen en gebreekte ribbes wat deur sy longe gesteek het, in die hospitaal se waakeenheid opgeneem.
“Toe dit lig word het ek en my ma weer teruggegaan na die ongelukstoneel, maar daar was steeds geen teken van ons hondjie nie,” sê Hester. “My ma het Miley se foto op hul Vaaloewergroep gesit, en om-en-by 09:00 het iemand ‘n foto gestuur van ‘n hondjie wat 2km van die ongelukstoneel af langs die pad gevind is. Al was sy nat, kon ek sien dit was Miley.”
Dit was ‘n blye weersiens toe Hester en haar hondekind herenig is. “Miley was bitter bly. Sy het ‘n gewoonte om op die agterpootjies te staan en met haar voorpootjies ‘handjies te klap’. Toe sy dit doen het ek geweet sy is oukei,” sê Hester.
Dit was eers later die dag toe Hester met Gerhard kon praat, dat sy die volle omvang van sy beproewing besef het. Terwyl hy in die reën onder sy bakkie vasgepen was, het rowers op hom toegesak en sy skoene, sy horlosie en bankkaart gevat, sowel as drie van die bakkie se bande afgesteel. Hulle het hom hulpeloos daar agtergelaat en hy is eers omstreeks 23:30 deur ‘n verbyganger raakgesien, wat die nooddienste ontbied het.
Ondanks Gerhard se nagmerrie-ervaring is die paartjie baie dankbaar vir die talle goeie mense wat hulle dwarsdeur die drama ondersteun het.
“Daar is so baie vir wie ons wil bedank… familie, vriende, die publiek vir al die shares en boodskappe, ER24 en veral die man wat spesiaal na my huis toe gery het om my te kom inlig, en almal wat op die ongelukstoneel gehelp het. In besonder bedank ons die De Villiers-gesin, Rocco, Charlotte, Divan en Ajee wat Miley gevind het. Ek kan nie genoeg dankie sê dat hulle langs die pad gestop het en toe nog 500 meter agter haar aangehardloop het om haar te vang nie. Dankie dat julle so mooi na haar gekyk het totdat ek haar weer kon oplaai,” sê Hester.
“Die mooiste woorde wat my dogter na die tyd vir my gesê het was: ‘Mamma, jy weet, Vrydag was liewe Jesus se dag. Dit is hoekom almal gespaar is.”
OPDATERING: Hester sê dit gaan al soveel beter met Gerhard dat hy uit die hospitaal ontslaan kon word en hy sterk nou tuis aan.



*********************************************************************************************************

