Vaaldam: Twee sluise toegetrek
Die departement van water en sanitasie het Maandag (25 April 2022) laat weet dat twee van die agt sluishekke wat verlede week by die Vaaldam oopgetrek is, intussen weer toegetrek is.
VEREENIGING. – Volgens Sputnik Ratau, ‘n woordvoerder vir die departement, is die besluit om die sluise toe te trek geneem nadat die watervlak by die Vaaldam gesak het.

Dit beteken dat daar tans (op Maandag 25 April 2022) vyf sluise oop is.
“Een van die sluise is reeds op Sondag 24 April 2022 toegetrek en die ander een Maandag (25 April 2022) om 10:00,” sê Ratau in ‘n verklaring.
Die besluit om agt sluise oop te trek het gevolg nadat die invloei van water aansienlik gestyg het weens die reën in die Vaaldam se opvangsgebied die afgelope paar weke.
Volgens Ratau hou die departement die situasie dop.
“Die departement sal die situasie by die damme en in die Vaalrivier-stelsel voortdurend monitor. Dit vorm deel van die departement se werk om infrastruktuur, sowel as die lewens en lewensbestaan van gemeenskapope stroomaf te beskerm,” sê Ratau.
Kyk die video van hoe dit Vrydag (22 April 2022) by die Vaaldam gelyk het toe agt van die dam se sluise oop was:
