Laerskool Kollegepark se Mnr. Coenie Herbst
Terwyl Mnr. Coenie sy verjaardag op 24 April gevier het, is dit 'n goeie tyd om hom van naderby te leer ken.
VANDERBIJLPARK. – Laerskool Kollegepark se skoolhoof, Coenie Herbst verkies om by die ronde tafel in sy kantoor te werk.
“As ek daar agter die groot lessenaar sit, voel ek net te ver van almal af,” beduie hy rustig oor ‘n beker koffie.

Coenie het in die Vaal grootgeword en het matriek in 1983 aan die Hoërskool Vereeniging geslaag. Daarna het hy onderwys aan die destydse Goudstad Onderwys Kollege gaan swot.
“Ek het nie beplan om ‘n onderwyser te word nie. Die voormalige Springbokvleuel, Gerrie Germishuys, het by die skool aangedoen om leerlinge te werf om onderwys te gaan swot. Ek en ‘n vriend het gedink dis nou ‘n ideale af periode.
“Die skoolhoof het egter ons planne gefnuik, en gesê as jy hier is, beter jy ernstig wees. Ek het toe maar die beursaansoekvorms ingevul en wraggies keuring gekry,” lag hy. “Ek was nog nie een dag spyt daaroor nie.”
Na sy studentedae het hy eers vir militêre diensplig aangemeld. “Ek het gelukkig toe reeds ‘n aanstelling by my ou alma mater, Laerskool Handhawer gehad.”
Hy het sy onderwysloopbaan in 1990 begin en het alles van Afrikatale tot geskiedenis aangebied.
Vier jaar later het hy departementshoof geword en in 1999 is hy as adjunkhoof by Laerskool Kollegepark aangestel. In Maart 2018 het sy aanstelling as hoof gevolg.

Coenie kan nie sy lewe sonder die skool en leerlinge indink nie. “As die kinders hier is gaan dit goed,” beduie hy. Dis vir hom belangrik dat elke leerling moet tuis voel by die skool. Hier moet hulle veilig en geborge voel.
“Dis ook hoekom ons goed doen soos die pretloop en die Funky Vrydae. Dis waarvan die leerlinge hou en dis tog wat hulle eendag gaan onthou,” glimlag hy breed.
Mnr. Coenie, soos wat almal hom noem, is bekend daarvoor dat hy dinge saam met die leerlinge doen.
Hy het hoeka verlede kwartaal met hanswors gewaad en al die pretloop met ‘n paar prettige danspassies afgeskop. Hy het ook seker gemaak hy draf saam met elke klas om die baan.
Draf is sy forte. Wanneer sy skoene ritmies met die teer kan kennis maak, is hy gelukkig. Hy beplan om hierdie jaar aan sy 28ste Comrades Ultramarathon deel te neem.
Die groot grendelstaat in 2020 was vir hom baie erg. “Ek het maar elke dag om my huis gedraf en in die proses permanente spore in die gras getrap,” onthou hy.
Coenie is ‘n buitelugmens wat daarvan hou om by die viswaters te gaan draai.
Hy spandeer ook graag tyd saam met sy familie. “Tussen my en my tweede vrou, Annelie, het ons vyf kinders en twee kleindogters,” en oupa se oë glinster sommer ekstra van trots.
Hy het ‘n passie vir die onderwys en vir Afrikaans. “Ek wil hê my kleinkinders en agterkleinkinders moet nog in Afrikaans kan skoolgaan. Al hoe dit sal gebeur is as ons almal saamwerk. Mense moet leer om die son oor ander te laat skyn.”
Coenie beskou homself nie as ‘n tradisionele skoolhoof nie. “Ek moet soms streng wees en as skoolhoof is ek die een wat die groot besluite moet neem, maar ek glo daaraan om saam te doen, eerder as om opdragte uit te deel.”
“Alles is net genade,” raak hy ernstig. “Hier by die skool word almal met respek hanteer en ons werk soos ‘n masjien saam. Elkeen wat hier werk is deel van die hartklop van die skool en wat ons doen, doen ons vir die leerlinge. Ek sê altyd wees positief en dankbaar vir alles wat jy het.”

