Tennis is sy passie, die bane sy bedieningsveld
Maak nader kennis met Werner Joubert - tennisafrigter, sakeman en teoloog
SASOLBURG. – Werner Joubert is ‘n besigheidsman met ‘n graad in teologie agter sy naam. Oud en jonk ken hom egter die beste as tennisafrigter en eienaar van die Werner Joubert Tennis Akademie.
Sy passie vir die sport kom al van sy kinderdae toe hy in graad 1 vir die eerste keer begin tennis speel het.

Teen die einde van sy graad 11 jaar het hy geweet hy wil voltyds sy tyd aan tennis wy. Hy het in 2006 begin tennis afrig en in 2008 het hy sy eie akademie begin.
Sedertdien gaan die tennis akademie van krag tot krag en het hul selfs nou na Hartbeespoort uitgebrei.
“Daar is sowat 50 leerlinge met Christopher Bull as afrigter,” vertel Werner. “Dan het ons tans oor die 200 tennisspelers van so ver as Parys, Heilbron, Vanderbijlpark, Sasolburg en Vereeniging.”
Die akademie bied ook mini-tennis aan. Dis vir die kleuters wat nog met groot sponsballe, kleiner rakette en baie laer nette speel.
Dan is daar die Cross-tennisklasse wat ‘n kombinasie van tennis en aerobics is. Al die akademie se afrigters is gekwalifiseer en geregistreer by Tennis Suid-Afrika.

Werner sê hy het met tennisafrigting begin omdat hy nie lus was vir swot nie. “Ek het agtergekom ek het ‘n kop vir besigheid, ‘n passie om tennis af te rig en ek geniet dit,” glimlag hy.
Tog het hy homself ook geroepe gevoel om Teologie te studeer. Hy het deeltyds sy studies aan die NWU in Potchefstroom voltooi en steeds tennis afgerig.
Daarna het hy sy honneursgraad in pastorale berading en sport voltooi. Die tennisbane is ook sy sendingveld. Werner maak altyd tyd om na die kinders te luister.
“Ek het al selfs een van die meisies se huwelikseremonie waargeneem. Sy het altyd gesê as sy die dag trou, dan moet ek hulle trou,” vertel hy trots.
Deur die jare het sy tennis akademie al by die 1 500 kinders afgerig. Hulle probeer ook om vir die uitstaande spelers tennisbeurse te bekom.
So was Larize Nel op ‘n stadium onder die top 30 in die land en het sy ‘n beurs bekom om in die VSA te studeer.
Werner en sy span afrigters neem die tenniskinders gereeld op toere om aan toernooie te gaan deelneem.
Sy eie kinders, Estiaan (4) en Janelie (7) speel albei tennis met sy vrou, Chistine as hul grootste ondersteuner.
Besoek gerus hul Facebookblaaie @WernerJoubertTennisAkademie en WJ Cross-Tennis vir meer inligting.

