Meyerton parkrun spog nou met vier nuwe bankies
Daar is 'n paar splinternuwe bankies op die Meyerton-parkrun roete waar deelnemers kan sit en rus of toeskouers kan sit en deelnemers aanmoedig.
MEYERTON. – Volgens Esmé du Toit, mede-direkteur van Meyerton-parkun, is die eerste bankie by “sandput” geleë, die tweede een onder ‘n boom by die pomphuisie, die derde een op die heuweltjie en verder aan is daar nog ‘n vierde bankie.
Die eerste bankie by die “sandput” is geskenk deur die plaaslike Powerpuff Girls-groep, terwyl die tweede bankie geskenk is deur ‘Mama Rose’, ‘n goedhartige lid van die parkrun-klub.
Die bankie op die heuweltjie is geskenk deur ene Christine, ‘n parkrunner wat gereeld met haar Deense hond aan die parkrun deelneem. Die gedeelte waar die bankie geleë is staan ook as “Christine’s Corner” bekend.
Die vierde bankie is volgens Du Toit “geskenk deur ‘n fantastiese mens vir ‘n familie wat gereeld met hul gestremde dogter aan die parkrun deelneem”.
Du Toit verduidelik: “Die bankies is vir enige iemand wat wil sit en rus of ‘cheer’. Die borge het toestemming gegee dat die publiek dit kan gebruik. Ons beoog om plaatjies op die bankies te sit met die skenker se naam en ‘n kort boodskappie op.”



