Local newsNewsNews

Johannesburger gered nadat hy amper met skiboot deur oop sluise van Vaaldam glip

Die nasionale seereddingsinstituut moes Sondag 1 Mei 2022 ‘n man van Johannesburg te hulp snel nadat sy skiboot teen die wal van die Vaaldam vasgedryf en hy tussen twee oop sluise beland het.

DENEYSVILLE. – Volgens Jake Manten, bevelvoerder van die seereddingsinstituut se Vaaldam-stasie, het reddingswerkers omstreeks 16:00 ‘n boodskap ontvang oor die skiboot wat teen die damwal vasgedryf het.


Die seereddingsinstituut het die departement van water en sanitasie genader en gevra dat die sluise toegetrek word terwyl die seereddingsinstituut se boot Spirit of Round Table uitgestuur word om die man te hulp te snel.

‘n Oop sluis by die Vaaldam. Foto: Christiaan Cloete

 


“Met aankoms op die toneel het ons een persoon aan boord die skiboot aangetref. Die man het aan ‘n toe sluishek, tussen twee sluise wat oopgetrek is, vasgeklou. Daar was ‘n gevaar dat die boot na die linkerkant of regterkant meegesleur sou word en deur die oop sluise aan weerskante sou glip.


“Reddingswerkers het ‘n veilige afstand gehou, maar kon nie onmiddellik die persoon bystaan voor die sluise toegetrek is en dit veilig was om nader te beweeg nie.


“Nadat die sluise toegetrek is en dit veilig genoeg was kon die reddingspan nader gaan om die persoon te help,” lui ‘n uittreksel uit ‘n verklaring wat die seereddingsinstituut uitgereik het.


Dit blyk of die skiboot se enjin onklaar geraak het en die boot teen die damwal vasgedryf het.


Die seereddingsinstituut het Pieter Vermaak van die departement van water en sanitasie geloof vir sy vinnige reaksie om die sluise toe te trek.


Die seereddingsinstituut het opnuut ‘n beroep op die publiek gedoen om veiligheid aan die dag te lê en ‘n veilige afstand van die damwal te hou terwyl die sluise oop is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button