Leerlinge van onderrig ontneem weens geskil oor skoliervervoer
Die DA sê duisende leerlinge in Midvaal en Emfuleni word ontneem van toegang tot onderwys weens 'n geskil tussen die vorige en die nuutaangestelde diensverskaffer vir skoliervervoer.
EMFULENI. – Die DA se skadu-LUR vir onderwys, Khume Ramulifho sê die situasie is onaanvaarbaar aangesien leerlinge die geleentheid mis om elke dag skool toe te gaan.
“Die DA is oorval met oproepe, SMS-boodskappe en e-posse van ouers wie se kinders deur die dispuut, wat intussen tot ‘n staking gelei het, geraak word.
“Talle leerlinge word erg geraak omdat hul ouers nie kan bekostig om vir alternatiewe vervoer te betaal nie, terwyl sommige nou gedwing word om ver afstande skool toe en terug te stap.
“In baie gevalle mis hierdie leerlinge ook skool weens die departement se versuim om dringend in te gryp en te verseker dat hierdie noodsaaklike diens nie ontwrig word nie.
“Dit is kommerwekkend aangesien leerders regoor die provinsie waardevolle onderwystyd verloor het as gevolg van rotasieleer en onderrig en hulle sal voortgaan om skoolopleiding te mis weens hierdie skoliervervoergeskil,” sê Ramulifho.
Die DA sê hy sal met die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, in gesprek tree en vra vir die onderwysdepartement se dringende ingryping om te verseker dat leerlinge in Midvaal en Emfuleni toegang tot vervoer het.
“Die departement se gesloer om hierdie skoliervervoergeskil op te los, ontneem leerlinge van hul basiese reg op onderwys en beroof hulle moontlik van toekomstige geleenthede.
“Ons sal nie toelaat dat sulke geskille ons kinders van toegang tot leer en onderrig ontneem nie,” sê Ramulifho.
