Emfuleni-burgemeester: “Mosie ‘n poging om wit oorheersing te bevorder”
Die burgemeester van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, rdl. Sipho Radebe, het Woensdag (4 Mei 2022) tydens 'n raadsvergadering by die Vereeniging-stadsaal gesê die mosie van wantroue wat teen hom ingestel is, is niks anders as 'n poging deur die Vryheidsfront Plus om “wit oorheersing te bevorder” nie.
VEREENIGING. – Die poging om die burgemeetser van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, rdl. Sipho Radebe, met ‘n mosie van wantroue uit die kussings te lig het Woensdag by die stadsaal in Vereeniging misluk nadat altesaam 41 van die raadslede ten gunste van Radebe se verwydering as burgemeester gestem het en 47 raadslede daarteen gestem het.
Rdl. Gerda Senekal het die mosie namens die Vryheidsfront Plus teen Radebe ingestel.
Senekal het gesê die mosie word ingestel omdat Radebe versuim het om sy wetlike verpligtinge en verantwoordelikhede as burgemeester na te kom en omdat hy nagelaat het om die plan vir finansiële herstel van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit te implementeer.
Die feit dat Emfuleni ‘n ongekwalifiseerde oudiverslag ontvang het, oortyd wat aan munisipale amptenare betaal word, die gebrek aan basiese goeie regering, die negatiewe manier wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit in die media uitgebeeld word en die negatiewe persepsie wat inwoners van die munisipaliteit het vorm ook deel van die aanklag teen Radebe.
Die mosie is hoofsaaklik deur die Vryheidsfront Plus, die Demokratiese Alliansie en die EFF gesteun.
Die ANC en hul koalisievennote het die mosie teengestaan.
“Ek sien die mosie as ‘n soort aanval wat gebruik word om die kultuur van wit oorheersing te bevorder,” het Radebe in antwoord op die mosie van wantroue gesê.
Ek is van mening dat die Vryheidsfront Plus die belange van ‘n klein minderheid bo die belange van die meerderheid wil stel.
Radebe het Senekal ook van “plagiaat” beskuldig aangesien gedeeltes van die mosie wat Woensdag ingedien is presies dieselfde bewoording bevat as ‘n mosie wat die Vryheidsfront Plus op 13 Julie 2020 by die Mangaung-metroraad ingedien het.
Radebe het erken dat daar uitdagings is wat hy by die vorige administrasie geërf het, maar ook gesê dit is onregverdig van die Vryheidsfront Plus om hom te veroordeel aangesien hy nog net ses maande die burgemeester is.
“Die doelwit van hierdie mosie is om ons beslissende ingryping ten opsigte van dienslewering te ontspoor,” het Radebe in sy reaksie gesê.

