Reuse pampoen, pret en basaargeure by NG 4 Ankers in Sasolburg
SASOLBURG. - Die NG-gemeente 4 Ankers bied aan: Nuwe-Normaal-Outydse-Konsert-Basaar-Dankdiens-Naweek.

Sjoe dis nogal ‘n mondvol, maar al wat dit beteken is dat daar vir drie dae aanmekaar, 6 tot 8 Mei, na hope vermaak uitgesien kan word.
Dit is waarna uitgesien kan word:
Vrydag, 6 Mei – Nuwe-Normaal-Outydse-Konsert – om 18:00.
Die gemeentekonsert skop af met Haasdas se Nuuskas, gevolg deur ‘n verskeidenheid items waaronder Oom Wie Weet en Oom Watse Naam, asook Vaalpark Primêre Skool se junior koor. Vir net R20 per persoon sal daar baie vermaak wees.

Saterdag 7 Mei – Van 09:00 sal basaargeure padlangs om die grootfonteinsirkel deur die hele Sasolburg versprei. Die tafels gaan kreun onder basaargebak, lekkernye, poedings en kerrie-en-rys. Die kerksaal is vol winskooptafels.
Soos van ouds is daar ‘n kans om ‘n wildsboudjie in die oond te kry en daar sal ook ‘n veiling wees – Meneer die Beer (Teddy Tom) moet ‘n eienaar kry.
Nog ‘n hoogtepunt is pampoen vir biltong.

Ja, jy lees nou reg – dis ‘n pampoen vir biltong. Gert bring sy gekweekte reuse pampoen, direk van die Groot Pampoenkampioenskappe af, hier na Sasolburg. Hy het die pampoen vir 4 Ankers se basaar geskenk.
Die pampoen word Saterdag by die basaar uitgestal. Ongelukkig is die pampoen te swaar vir enige kattebak, so kom raai die gewig van die pampoen en die naaste regte raaiskoot wen twee hande vol biltong.
Sondag 8 Mei – Nuwe-Normaal- Dankbaarheidsdiens
Die erediens word as ‘n dankbaarheidsgeleentheid aangebied. Bring ‘n blom saam na die erediens. Enige blom simboliseer ‘n hartsgevoel.
Kom plaas Sondagoggend vanaf 8:30 jou blom aan die voet van ‘n houtkruis en word so deel van ‘n dankbare gemeenskap. Die diens begin om 09:00.

