VAALPARK. – Lumiére Primêr se skoolhoof, Lihan Kriel (40), sê mens vind hom nie baie in sy kantoor nie.
Hy verkies om tussen al die administrasie en verpligtinge steeds klas te gee. Hy is tans graad 6 se lewensvaardigheidsonderwyser. “Dis lekker om nog te kan klasgee. Sodoende kry ek ‘n gevoel wat regtig in die skool aangaan.”

Onderwys is in sy bloed. Albei Lihan se ouers was onderwysers, sy broer en skoonsuster is in die onderwys en sy vrou, Olga is adjunkhoof by Leeuwspruit Primêr in Sasolburg.
“Oorspronklik het ek onderwys gaan swot want die sport en kans om sport te kan afrig het my getrek,” onthou hy.
Hy was nog altyd lief vir sport en het op skool rugby en provinsiale krieket gespeel.
Krieket het uiteindelik die oorhand gekry en Lihan het twee jaar in ‘n ry die wilgerlat vir die SA universiteitespan geswaai.
Selfs na universiteit het hy klubkrieket gespeel. Intussen het die gholf-gogga hom gebyt en sedertdien is hy op die gholfbaan te vinde in daardie uitsonderlike oomblikke wat ‘n hoof soms vir homself het.
Wanneer Lihan die slag kan wegbreek met vakansie saam met Olga en hul twee spruite, Lougan (10) en Taylen (5) dan is dit Suidkus toe in Desember en Bosveld toe in Julie.
Lihan is in Meyerton gebore en getoë. Hy het in 2001 aan Hoërskool Dr. Malan gematrikuleer. Daarna het hy onderwys aan die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus studeer.
In 2002 is hy as vlak 1 onderwyser by Leeuwspruit Primêr aangestel. Hier het hy natuurwetenskappe aangebied tot in 2013. In die middel van daardie jaar is hy as departementshoof by Lumiére aangestel.
“Daardie jare het die skool nie ‘n adjunkhoof gehad nie. Ek het direk aan die hoof, mnr. Piet Havenga, gerapporteer,” onthou hy dankbaar.
“Hy was my mentor. Ek het alles by hom geleer en soveel ondervinding deur hom opgetel. Dit was iets in ‘n ander klas.”
Dié jare het hom goed geskool vir sy huidige pos waarin hy op 5 Mei 2021 aangestel is, nadat hy ‘n tyd lank afgelos het.
Op die Lumies is hy baie trots en dankbaar dat hul nou weer aan sport kan deelneem en vrylik kan rondhardloop.
“Die kinders het die afgelope twee jaar net gesit en TV-speletjies speel, so ons probeer hul nou weer aan die gang kry.” Daar was juis op 23 April ‘n minidag waarby 10 skole se o.6 en o.7 maats aan ‘n rugby- en netbaldag deelgeneem het.
“Georganiseerde chaos,” lag hy, “maar die kinders geniet dit baie.”
Naas sy eie gesin, is die skool se kinders sy grootste prioriteit. Die personeel en leerlinge op hul beurt is weer net so erg oor hulle hoof en daar word elke jaar ‘n groot ophef van sy verjaardag gemaak.

In 2020 het hulle byvoorbeeld vir hom ‘n motorfietsrit georganiseer en verlede jaar is sy verjaardag met ‘n gholftema gevier.
Lumiére Primêr se Departementshoof: Grondslagfase, Darina Cilliers, wat by Leeuwspruit skoolgehou het toe Lihan sy onderwysloopbaan begin het, het met sy aanstelling as hoof gesê: “Hy het voor my oë grootgeword.”
Sy het Lihan met drie woorde opgesom, naamlik deursettingsvermoë, geloof en integriteit.
Sy stille rustigheid en onderlinge erns val jou op, maar ook die gedagte, Lumiére is in goeie hande.
Hier is ‘n jong skoolhoof wat sy plek vol staan en die skool met vaste tred in die regte rigting stuur.

