Landloopatlete toon goeie sportmanskap tydens Vaal-landloopliga
Somtyds raak mens so moedeloos dat dit voel asof jy nie kan aangaan nie. Gelukkig is daar ander mense langs die pad wat kan help.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Gees van goeie sportmanskap het Saterdag tydens Atletiek Vaaldriehoek (AVT) se eerste landloopbyeenkoms van 2022 by die Hoërskool Transvalia geheers.
Toe die 12-jarige Peloyarona Tshabalala van Letsema-Ilima Primêre Skool ongeveer ‘n kilometer voor die eindstreep van die 3km-wedloop ineengestort en op die grond bly lê het, het sy gedink haar wedloop is verby.
Juanica van der Merwe, ‘n atleet van die Cool Runnings-atletiekklub, het by haar gestop en haar aangespoor om die wedloop te voltooi.
Juanica het Peloyarona eers versigtig regop gehelp en toe haar hand vasgehou tot sy weer op dreef gekom het.
Die twee het saam tot by die eindpunt gedraf met Juanica wat Peloyarona langs die pad moed ingepraat het vir die laaste kilometer.
By die eindpunt het Juanica gestop en vir Peloyarona gewag om klaar te maak en toe hande vir haar geklap nadat sy oor die eindstreep beweeg het.
Dit is nie bekend wat fout gegaan het vir Peloyarona nie, maar wat ons wel weet is dat sy die wedloop voltooi het!




