By stortingsterrein met glasstukke en bakstene aangeval
Ses mans het skielik uit die stortingsterrein te voorskyn gekom en die vier familielede met gebreekte bottels en bakstene aangeval
SASOLBURG. – “Só lyk mens as jy deur ses mans by die vullishope in die dorp aangeval is.”
Dit was Saterdag mev. Theresa Ross se verduideliking toe sy die foto (op die voorblad) van ‘n jong man met ‘n gapende sny aan sy bolip, op Facebook geplaas het.
Theresa sê haar seun, haar swaer, sy seun en skoonseun is Saterdag na die stortingsterrein langs Sasolburg se begraafplaas agter die tronk, om ‘n vrag vullis te gaan aflaai.
“Ses mans het skielik uit die stortingsterrein te voorskyn gekom en die vier familielede met gebreekte bottels en bakstene aangeval,” sê sy. “My swaer, Peter Vera, is geslaan en toe hy val, is hy geskop en met grawe wat die aanvallers uit die voertuig gegryp het, gedreig. Een het ‘n graaf teen my swaer se keel gehad terwyl hy gelê het.”
Theresa se seun, Jason van Niekerk (26), is met ‘n baksteen teen die been en enkel gegooi en sy voet het in die proses sleg seergekry. Sy neef, Brandon Vera (20), is met ‘n gebreekte glasbottels teen die mond gesteek. Sy bolip is feitlik deurgesny en moes agterna met verskeie steke by Mediclinic Emfuleni se ongevalle-afdeling geheg word.
Theresa sê dit was nie die eerste keer dat haar familielede daar aangeval is nie. ‘n Vorige keer is haar swaer se selfoon uit sy voertuig gesteel terwyl hulle hom aan die ander kant van die voertuig besig gehou het. “Niemand kan in elk geval meer gemaklik in die stortingsterrein inkom nie. Reeds van die stukkie grondpad af, voor die ingang, bespring hulle jou kar, ruk goed af en rig groot skade aan. Hierdie is ‘n jarelange probleem waaraan die munisipaliteit niks doen nie. Waar moet mens jou vuilgoed gaan weggooi? Dis geen wonder dat mense hul vullis langs die pad stort nie,” sê Theresa.
Inwoners van Sasolburg kla lankal dat daar glo dwelmgebruikers op die stortingsterrein plak en dat hulle die inwoners wat wettig kom vullis stort, se veiligheid bedreig. Daar is ook klagtes omdat die plakkers veral gedurende wintermaande brande op die terrein stig. Inwoners van die omgewing sê die rook en roet maak hulle siek en ontsier hul erwe. Hulle doen ‘n beroep op die munisipaliteit om dringend teen die plakkers op te tree.
WAARSKUWING: DIE FOTO ONDER TOON BRANDON VERA SE LIP, WAT DEUR ‘N GLASSTUK OOPGEKLOOF IS. MOENIE ONDERTOE ROL AS JY SENSITIEF IS VIR FOTO’S VAN BLOED EN BESERINGS NIE.

*************************************************************************************

