Local newsNewsNews

Francois du Toit, hoof van Die Anker en oud-rugbyafrigter

Francois Du Toit - gee om vir elke leerling en dra hul belange op die hart

VANDERBIJLPARK. – Francois du Toit het in die Laeveld grootgeword. Vandag lê daardie area hom steeds na aan die hart.

Hoe dan anders as jy in Laerskool Witrivier was en jou hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Rob Ferreira begin het?

Van links: Adjunkhoof André Snyman (voorsitter van die Valke LSOB rugby), skoolhoof Francois du Toit, departementshoof Tiaan Kellerman (hulpafrigter LSOB Valke) en adjunkhoof Quinton Hurter (SA en Valke LSOB rugbyspanne). Foto: Gerda Bruinette

Matriek het hy in 1988 aan die Hoërskool Grenswag in Rustenburg voltooi.

Daardie jare het hy provinsiaal krieket gespeel en toe Fanie de Villiers (op daardie stadium snelbouler van die nasionale krieketspan) by hul skool draai om onderwysstudente te werf, was Francois daar.

Vir die volgende vier jaar was hy deel van die studentelewe van die Normaal Kollege Pretoria, of NKP soos dit bekend gestaan het.

“In 1993 het ek as jeugdige onnie hier by Die Anker begin. Ek het daardie jare wiskunde en wetenskap aangebied,” onthou hy met ‘n glimlag.

Die afgelope amperse drie dekades het sy liefde vir die skool en leerlinge net gegroei.

In 2002 is hy tot departementshoof bevorder en in 2011 as adjunkhoof aangestel. Sedert 2015 stap hy die pad as hoof saam met die skool.

Die Anker is ‘n skool vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes (LSOB).

By die skool gaan die hoof, personeel en terapeutiese span uit hul pad om elke leerling na die beste van hul vermoë op te voed en te onderrig.

Op ‘n impromptu toer saam met die hoof deur die skool, is dit die netjiese terrein en die rustigheid wat ‘n mens eerste opval.

Elke leerling wat verbykom word ook op die naam gegroet. Hy praat van die leerlinge as sy kinders.

Francois  is streng, maar sy oë vonkel, selfs as hy ‘n jongeling hard moet aanspreek omdat die nie is waar hy veronderstel is om te wees nie.

Op die skoolterrein loop daar oral hoenders en poue rond – die ganse is onlangs doodgebyt deur ‘n wolfhond met geen buurmanskap nie.

Francois tel ‘n pouveer op en vertel opgewonde van die nuwe tuinbouprojek wat hul begin het.

Dis duidelik dat daar by die skool omgegee word vir elke kind as individu.

Elke onderwyser kan ook hul klaskamers inrig soos wat dit hul pas en vrolike gordyne is voor die meeste vensters te bespeur.

“Die skool moet vir die kinders hul stukkie hemel op aarde wees. Hier is hulle veilig en geborge. Ons streef daarna om die kinders voor te berei om in die samelewing daar buite te kan aanpas,” beduie hy.

Voordat Francois skoolhoof geword het, was hy by rugby afrigting betrokke. “Rugby was my lewe. Ek was op ‘n stadium hoofafrigter van die Valke se LSOB-span, asook van die LSOB SA-span.”

In 2009 het hy die Valke se o.19 Curriebekerspan afgerig en het hulle deurgedring na die semifinale. In 2014 het die o.21 NWU span met Francois as hoofafrigter, hul liga onoorwonne beklink.

Nou se dae hou sy verpligtinge as hoof hom te besig en laat hy die rugby afrigting in die hande van die skool se twee adjunkhoofde, André Snyman en Quinton Hurter, saam met departementshoof Tiaan Kellerman.

Francois is getroud met die appel van sy oog, Barbara. Sy is ‘n oudonderwyseres wat sy passie vir die skool verstaan, al spot sy dat hy met die skool getroud is.

Hy speel so nou en dan bietjie gholf, maar verkies om net rustig tyd by die huis te spandeer.

Die Bosveld bly ‘n gunsteling vakansiebestemming, maar eintlik is hy op sy gelukkigste by Die Anker, want hier kan hy sy roeping om ‘n verskil in die kinders se lewens te maak, uitleef.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button