Ek sê maar net …
Rubriek. - Dis die storie van afskeid. Die een wat so baie van ons ken, want ons vriende en familie sit in verre en vreemde lande.
Jy weet, mense gaan oorsee. Afrikaners. Nie net vir vakansie nie, om te bly. Vir altyd.
Ek gun hulle hul nuwe lewens en geleenthede. Maar ai, dis die afskeid.
Ja, daar is die troos van WhatsApp boodskappe en oproepe. Van video oproepe en foto’s op bakkiesblad. Maar …
Die ergste is die wete dat die kanse vir weersiens min is. Ja, van die mense kom kuier weer, maar dan is hul tyd beperk en die lysie van mense wat gesien moet word lank.
My vriende en familie is ook al oor die wêreld versprei. Onlangs het my kamermaat van universiteit en haar man Nederland toe verhuis.
Vele van my destydse klasmaats het ook wortels opgetrek en dit verder as ver gaan plant. Van Doha tot in Nieu-Seeland en Australië.
Kinders met Afrikaanse name praat Engels met hul Afrikaanse oumas en oupas op skype. Dis hartseer.
Maar, die hartseerste van almal, was om van my Twin afskeid te neem. Sy is het die week Swede toe verhuis. Ek gun haar dit.
Vir die mense wat nou frons en wonder. Hier is die storie:
Lank gelede het twee dogtertjies op ‘n rooistoeptrappie gesit.
Hulle het vir mekaar gekyk en begin giggel. Sonder ophou.
Hoekom weet niemand nie, maar hulle het dit nog vir jare daarna gedoen elke keer as hulle mekaar gesien het.
Dalk was dit omdat hulle so baie na mekaar gelyk het of sommer maar net…
Ek sal weet, ek is een van hulle. Die ander een was my Twin. Dis hoe ons bekend staan en dis hoe ons mekaar noem.
Eintlik is ons niggies en nie eens ewe oud nie, maar dit het ons nog nooit gestuit nie.
Ons was op hoërskool toe kom kuier sy een vakansie in Vanderbijlpark.
Een dag beland ons in ‘n hysbak met ‘n ouerige tannie wat ons vra: “Is julle ‘n identiese tweeling?”. Ons het ‘n gesamentlike “ja” geantwoord.
Op ‘n ander keer kuier ek in Rustenburg. Twin het drie sussies en mens kan op ‘n afstand sien hulle is sussies, wat beteken as ek by is, lyk ons soos vyf susters.
Die niggies van my se ma is een van ‘n identiese tweeling. Dit is dus net logies dat haar sus se kinders baie soos haar dogters sal lyk.
Die betrokke Desember, toe kuier Tannie TweelingSus se drie kinders ook by my oom-hulle.
Agt orrelpypies wat na mekaar trek. Is ons een middag almal in my oom se kombi op pad dorp toe.
Soos ons by die eerste verkeerslig stop, brom hy: “Ag liewe aarde, help, die mense gaan dink julle is almal myne!”
Vele jare later, toe Twin eendag haar skootrekenaar aan het en heel per ongeluk oop het op ‘n foto van my, staan haar dogter, Zoie die foto lank en betrag en uiteindelik vra sy: “Is dit ‘n foto van mamma of Gerda?”
‘n Paar jaar later kuier ek weer daar en ons moet dorp toe vir inkopies.
Soos ons by die kassiere staan om te betaal, beloer die vrou ons en toe kom die bekende vraag: “Is julle ‘n identiese tweeling?” Ons lag en beaam.
Vandag dink ek weer aan die twee donkerkop dogtertjies wat so op Ouma Anna se voorstoep vir mekaar gesit en giggel het. En ek is bly ek het ‘n Twin, al bly sy nou in Swede.

