HealthLifestyleLocal newsNews

Man pleit vir operasie na 10 weke in hospitaal

Jurie was Vrydag, 25 Februarie met sy motorfiets van die werk af op pad huis toe, toe hy in Evereststraat deur ‘n bakkie getref is

Eerste gepubliseer in Vaalweekblad van 4 Mei 2022 – Lees ook die OPDATERING onderaan die berig.

VANDERBIJLPARK. – Jurie Edwards (51) is ‘n trotse man wat nog altyd hard gewerk het om kos vir sy gesin op die tafel te sit. Teenslae het hy nog altyd met positiwiteit afgeweer. Toe die onderneming waarvoor hy gewerk het in Desember verlede jaar hul deure sluit, het hy in Januarie vinnig ‘n ander werk as ketelmaker by Lead EPC gekry. Alles het goed gegaan tot daardie dag in Februarie toe ‘n motoris hom nie op sy motorfiets raakgesien het nie…

Nou lê Jurie al byna 10 weke in die Sebokeng Hospitaal en wag op ‘n noodsaaklike operasie aan sy been, wat op twee plekke gebreek is.

Jurie was Vrydag, 25 Februarie met sy motorfiets van die werk af op pad huis toe, toe hy in Evereststraat deur ‘n speurder wat van diens af was, se bakkie getref is. Met impak is Jurie se linkerbeen tussen sy motorfiets en die bakkie vasgeklem. Buiten vir verskeie ander beserings en oop wonde is sy been op twee plekke sleg gebreek.

Nadat hy op die ongelukstoneel gestabiliseer is, is hy na die Sebokeng Hospitaal vervoer, waar die been in traksie geplaas en steke in sy voet gesit is. Van die ander diep wonde is eers die Dinsdag, vier dae later, behandel. In daardie stadium het infeksie reeds ingetree en dooie weefsel moes twee keer uitgesny word voordat ‘n veloorplanting gedoen kon word. Sowat vier weke gelede is ‘n dwarspen deur sy been aangebring waaraan ‘n swaarder gewig vir traksie gehaak kon word. Hoewel hy pynmedikasie kry, veroorsaak dit intense pyn. Tans kan Jurie glad nie op die gebreekte been trap nie, maar ‘n operasie om ‘n pen in sy been te plaas om die breuke bymekaar te trek, sal hom in staat stel om weer te kan loop. Tot dusver is daar egter geen aanduiding van wanneer so ‘n operasie gedoen gaan word nie.

Hoewel Jurie blykbaar wel op ‘n waglys is, is dit nie duidelik waarom sy operasie nog nie kon plaasvind nie, aangesien verskeie pasiënte wat weke na hom opgeneem is, reeds geopereer is.

By amptelike navraag het ‘n woordvoerder van die hospitaal aan Vaalweekblad-joernalis, Lebo Chaha, verduidelik dat operasies by die Sebokeng Hospitaal tans weens infrastruktuur-uitdagings vertraag word.

“Teaters is oud en soms funksioneer die verkoelers nie. Dokters gee wel aandag aan pasiënte en verduidelik daagliks die uitdagings aan hulle,” lui die amptelike kommentaar.

Intussen pleit Jurie by die hospitaal dat die operasie gedoen word sodat hy kan begin genees en sy normale lewe en werk kan hervat.

Vicky se hart bloei vir haar man omdat sy weet hoeveel pyn hy verduur, en ook omdat sy weet hoe gefrustreerd hy is dat hy nie kan werk nie.

“Omdat hy net ‘n maand by die nuwe onderneming in diens was, het hy nog nie siekverlof opgebou nie. Hy word nie betaal terwyl hy nie werk nie.

“Ons staan op die punt om alles te verloor waarvoor ons ons lewe lank gewerk het en moet nou geld leen om aan die gang te bly. As hy die operasie kan kry, kan hy begin herstel en mettertyd teruggaan werk toe,” sê Vicky.

OPDATERING:  Jurie het toe Vrydag, 6 Mei, sy operasie gekry en kon teen Maandag, 9 Mei, reeds ontslaan word. Hy sterk nou tuis aan. Vaalweekblad sal kontak met die Edwards-gesin hou en terugvoer oor sy herstel gee. Ons wens hom ‘n spoedige en volkome herstel toe. RF.

WAARSKUWING – Van die foto’s hier onder kan sensitiewe kykers ontstel.

 

Jurie Edwards waar hy op 25 Februarie op die ongelukstoneel behandel is.

 

Die x-strale toon waar Jurie se linkerbeen op twee plekke gebreek is.

 

Jurie voor sy operasie in die Sebokeng-hospitaal..

 

Waarskuwing: Die foto (onder) van ‘n besering aan Rudie se knie, waar ‘n veloorplanting gedoen is, is baie grafies. Moenie verder afrol as jy sensitief is vir foto’s van wonde nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

*******************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button