Local newsNewsNews

MS-lyer gaan Tafelberg aandurf

Rozaan Steyn is 'n inspirasie vir oud en jonk met haar vriendelike glimlag en positiewe ingesteldheid teenoor die lewe.

SASOLBURG. – Rozaan Steyn (37) straal ‘n vriendelike warmte uit. Sy lag maklik en gesels lekker.

Op die oog af moeilik om te glo dat sy worstel met een van die wreedste siektes, veelvuldige sklerose of MS soos almal dit ken.

Rozaan was ‘n aktiewe jong vrou wat taebo gedoen het en gereeld aan parkruns deelgeneem het. Dit was totdat sy sommer net begin val het.

Vele toetse later is sy op haar 35ste verjaardag met MS gediagnoseer. Sy onthou hoe verskriklik die tyding vir haar was.

“Ek het in die hospitaal gelê en die lied, “Gaan dan heen en doen wat Ek vra”, het by my opgekom. “Ek het toe geweet die Here het ‘n plan.”

Sy beskryf MS as ‘n wrede en moeilike siekte en juis daarom wil sy ander MS lyers hoop gee.

“Ek probeer so aktief moontlik bly. Daar is terugslae. Tye wat ek nie kan beweeg nie, wat ek in die hospitaal beland of in die bed moet bly. Dan is my ouers daar om vir my alles, van fisioterapeute tot haarkappers, te speel vir my,” vertel sy.

Die Drie Steyns soos hul hulself noem, is ‘n baie hegte gesin. “Ons lag baie en het baie pret saam,” vertel ma Ansie.

Hulle is juis nou besig om te oefen om Tafelberg in September uit te loop.

“Ons dominee vra byna elke week van die kansel af of ons weet daar is ‘n kabelkarretjie ook,” lag Ansie, “maar dis iets wat Rozaan wil doen.”

“Ek oefen om my spiere aan die gang te hou,” vertel Rozaan. “Ek moet my kant bring. Toe Morné Bassson my genader het om Tafelberg uit te klim, het ek eers gedink hy is gek. Maar, toe dink ek, waarom nie? Hy doen dit as deel van bewusmaking van depressie, ek doen dit om ander MS lyers hoop te gee.”

Die beplanning is dat ‘n groep van ongeveer 72 mense die 2,9km Plattekliproete na bo sal aandurf, met baie rus en genoeg helpers om almal by te staan.

Rozaan en haar pa, Steyn, probeer om elke dag ten minste 2 km te loop en dan het sy ook al ‘n pretloop of twee agter die rug.

Rozaan Steyn met haar gunsteling wandelstok, Freddie. Foto: Verskaf

Waar sy ook al gaan, gaan een van haar twee wandelstokke saam, aangesien haar bene soms net onder haar invou. Tipies Rozaan, het sy die een Freddie en die ander een Buksie gedoop.

“Ek het ‘n baie kwaai neuroloog, dr. Kritzinger, maar die dag toe ek hom vertel ek oefen om Tafelberg op 17 September te gaan uitklim, het hy begin huil. Hy was so bly ek doen iets, van sy ander pasiënte gee soms net moed op,” vertel sy.

In die Steyn-huishouding word daar nie moed opgegee nie. Al het pa Steyn lupus en Rozaan MS, bly hulle ‘n positiewe, vrolike gesin wat alles saam aanpak.

“Ons het altyd baie sports en ons lag baie,” vertel Ansie, en dan deel sy die gesin se geheim, “want ons het Liewe Jesus aan ons kant.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button