So maak hulle dit beter in Vaalpark
SASOLBURG. - Daar word nie gewag vir verdere agteruitgang nie!

Saterdag was ‘n baie bedrywige maar suksesvolle dag toe inwoners die “Kom ons maak dit beter” inisiatief in Vaalpark ondersteun het.
Inwoners het slaggate toegemaak en selfs die matrone en verpleegpersoneel van Vaalpark Hospitaal het moue opgerol om slaggate voor die hospitaal se ingang te herstel.

Daar is ook op die afrit na die R59 vanaf Vaalpark gras gesny. Die munisipaliteit het ook gehelp en slaggate in Paardebergweg toegemaak.
“Wat ‘n wonderlike spanpoging was dit nie. Aan almal wat hierdie dag moontlik gemaak het en so mooi saam gewerk het wil ek baie dankie sê. Ek is trots op julle almal en dankbaar om ‘n leier vir so ‘n fantastiese gemeenskap te wees,” het MMC Ruanda Meyer (Sosiale Dienste en Raadslid van Wyk 22) gesê.
“Dankie aan elke persoon en besigheid wat betrokke is op verskeie gebiede. Dankie ook aan diegene wat fisies julle tyd opoffer om Vaalpark beter te maak, julle is kosbaar vir ons gemeenskap.
“’n Spesiale dank aan Proudly VaalPark NPC DIY Tar (RAM),” het sy afgesluit.



